On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Nuwe produksierisiko vir soja waargeneem

───   09:21 Thu, 18 Apr 2024

Nuwe produksierisiko vir soja waargeneem | News Article
Foto: Getty Images

Produsente stroop tans sojabone en het ’n amper ongekende verskynsel waargeneem wat die gehalte van die oes beïnvloed. Dit is dat té veel sojaboonpitte nie geel verkleur nie, maar groen bly.

Agri SA adjunkpresident, Nicol Jansen, vertel boere het hierdie verskynsel eintlik nog nooit as ’n produksierisiko geïdentifiseer by die beoordeling van die besluit op gewaskeuse nie.

“Produsente wat stroop, ervaar dat die groen pitte die toelaatbare 10% groen materiaal toleransie oorskry en dis selfs so hoog as 18 tot 20%. Anders as ander jare is die groen pitte nie nat en net fisiologies onryp nie, maar is kurkdroog en hard. Dus gebeur iets dat die plant se pitte nie klaar verkleur het nie, al is dit ryp en reg om gestroop te word.”

Jansen verduidelik dokumentasie beskryf die verskynsel wanneer die ensiem Chlorophyllase nie chlorofil afbreek nie en dit kom voor wanneer warm droë toestande op ’n sensitiewe stadium van die plant se groeifase voorkom.

“Dit is wat ons in Februarie en begin Maart ervaar het. Wanneer die sojabone dan gepars word, verkleur die olie wat uit hierdie sojabone gedruk word effe groen. Groen olie is nie vir die mark aanvaarbaar nie.”

In die bedryf is daar nog nie behoorlike data oor die impak van 1% oorskryding van die toleransie op die mate van verkleuring van geparste olie nie, maar verwerkers is so sensitief vir die risiko van groen olie dat sommiges nie sojabone – met selfs slegs 10% groen pitte – aangekoop het nie.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.