On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Senwes vier 115 jaar in landboubedryf

───   12:00 Wed, 15 May 2024

Senwes vier 115 jaar in landboubedryf | News Article
Senwes silo's. Foto: Senwes

“ ’n Mens is baie dankbaar as jy terugkyk na so baie mense se bydraes oor 115 jaar, maar die toekoms is wat eintlik saakmaak.”

Die Senwes Groep vier op 15 Mei 2024, 115 jaar in die landboubedryf en ontmoet produsente waar hulle is – op die plaaspad.

Die maatskappy is bedrywig in sewe van Suid-Afrika se provinsies, hoofsaaklik op die platteland en het ook die afgelope twee jaar hul voetspoor na die Europese platteland uitgebrei.

Senwes verskaf produkte en dienste deur hul insetkanaalbesighede, marktoegangbesighede, finansiële dienste en ook verwerking en kondisioneringsbesighede.

“Ons het ’n doodeenvoudige strategie, en dit is om ons kliëntebesigheid te bevoordeel,” vertel die uitvoerende hoof, Francois Strydom.

“Die geskiedenis het ’n beperkte waarde; ’n mens leer daaruit, en dan is daar goed van permanente en semi-permanente aard soos bates wat mense oprig, ens. Maar dis omtrent waar dit eindig. ’n Mens is baie dankbaar as jy terugkyk na so baie mense se bydraes oor 115 jaar, maar die toekoms is wat eintlik saakmaak.”

Strydom noem verder dat die uitbreiding na Duitsland kom ná ’n strategiese besluit wat reeds in 2010 geneem is, toe daar bepaal is dat die besigheid só ontwikkel het dat verdere groei nie op plaaslike vlak meer moontlik is nie.

“Ons projekteer altyd tien jaar vorentoe en omdat jy so ver vooruit kyk, doen jy nie bloot voorspellings nie, jy probeer eerder om die toekoms te ontwikkel.”

Senwes het toe vier John Deer-agentskappe in Oos-Duitsland uitgekoop en is tans in die proses om die besighede te konsolideer en as ’n onafhanklike maatskappy te begin bedryf.


Die maatskappy se jongste finansiële syfers word in Julie gepubliseer en Strydom glo hul risiko-mitigerende strategie die afgelope jaar het die volatiliteit uit die resultate gehaal in wat ’n moeiliker jaar vir landbou was.

“Ons verwag nog steeds goeie resultate, maar definitief nie op die vlak van laas jaar nie.”

By vanjaar se NAMPO Oesdag, wat van 14 – 17 Mei naby Bothaville plaasvind, gaan die Senwes Groep meer as R500 000 se betalings aan boereverenigings maak as deel van sy AgriRewards+-program.

Die program is ’n jaar gelede by NAMPO van stapel gestuur. Ná afloop van die eerste jaar van die AgriRewards+-program gaan die Senwes groep sowat R1,7 miljoen se uitbetalings aan boereverenigings se lede maak wat deel van die program en besigheid is.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.