Agriculture
Bek-en-klouseer in die Oos-Kaap: ‘n Groot kommer vir die vleisbedryf─── ROBYN SCHUTTE 05:00 Tue, 21 May 2024
‘n Onlangse geval van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap het groot kommer veroorsaak in die Suid-Afrikaanse vleisbedryf.
"Die Oos-Kaap het nog nooit, volgens my geheue, bek-en-klouseer gehad nie. Dit is baie kommerwekkend," vertel voorsieningskettingbestuurder by die Beefmaster Group, Roelie van Reenen.
Hy verduidelik dat die geval tans geïsoleerd is tot een melkery, en dat verdere toetse daarop dui dat daar geen verdere gevalle is nie.
Van Reenen het die gebrek aan biosekuriteit as ‘n groot bekommernis uitgelig en vertel dat die biosekuriteitmaatreëls in die Oos-Kaap baie swak is en moontlik ’n bydraende faktor tot die onlangse geval was.
Die ekonomiese impak van ’n moontlike uitbreking kan wesenlik wees; Suid-Afrika kan moontlik weereens uitvoermarkte verloor. Dit raak dus die hele waardeketting, vanaf die verpakker van vleis tot die primêre produsent. ”Die lande is besig om met mekaar te onderhandel hieroor en die risiko is baie groot dat ons moontlik van daardie markte kan verloor.”
Wat biosekuriteit betref, hoop van Reenen dat produsente en rolspelers sal besef dat bek-en-klouseer ’n hoogs aansteeklik siekte is, wat al voorheen groot probleme in die Suid-Afrikaanse vleisbedryf veroorsaak het.
Om die verspreiding van die virus te voorkom, maak Van Reenen ’n paar aanbevelings gemaak: "Eerstens, weet waar jy jou vee koop en laat ’n veearts hulle ondersoek. Kry die nodige naspeurbaarheidstelsels in plek. Vermy versamelplekke van diere sover as wat jy kan, en indien dit nie moontlik is nie, stel isolasieperiodes van 28 dae in."
Die geval van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap is ’n herinnering aan die belangrikheid van biosekuriteit en die potensiële ekonomiese impak van sulke siektes op die vleisbedryf in Suid-Afrika. Deur streng maatreëls in plek te stel, kan die verspreiding van die virus beperk word en verdere skade aan die bedryf voorkom word.
OFM/Agriculture
