Agriculture
Sussexbul bekroon as interraskampioen op NAMPO─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:38 Fri, 24 May 2024

“Die Sussexras is al in die jaar 1066 beskryf en word as ‘n antieke ras beskou.”
Die wenbul op vanjaar se NAMPO Oesdag is gebore uit ’n skoufamilie met voorouers wat ook al vir verskeie pryse en goue bekers op interrasskoue gesorg het.
Die sesjaar oue bul, Huntersvlei Colossal 37ste, is ’n trotse produk van die Huntersvlei Sussex-stoetery. In interraskompetisies ondergaan al die diere noukeurige beoordeling gegrond op hul spesifieke rasstandaarde om hul prestasie binne elkeen se onderskeie rasse te bepaal, gevolg deur vergelyking met hul eweknieë in die ring, verduidelik Enrico Cronje, bestuurder van die Huntersvlei-kudde.
“Assessering van die dier se fenotipe, wat faktore soos lengte, diepte en breedte insluit, saam met funksionele eienskappe, insluitend klou- en beenstruktuur, manlikheid (of vroulikheid in geval van koeie en verse), haarkleed en beweging vorm die basis van die evalueringsproses.”
Huntersvlei Colossal 37ste. Foto verskaf
Voor hierdie triomf is die bul ook ten toon gestel by gesogte geleenthede soos die Koninklike Skou in Pietermaritzburg en by die Nasionale Sussexkampioenskap op vanjaar se Bloemskou, waar hy as senior-en raskampioen bekroon is.
Tydens NAMPO is daar elke middag ’n parade waar al die rasse met haltermak beeste se diere ten toon gestel word en rasverteenwoordigers eienskappe oor elke ras deel om met hul beeste te spog.
Die jaarlikse Interrasbeoordelaarseksamen vind dan op die laaste dag van NAMPO plaas, met beoordelaars wat jaarlikse eksamen ondergaan om onpartydige evaluering van die beeste te verseker. Dit is in hierdie eksamen waar dan ’n opperste- en reserwe kampioen vir manlike, asook vroulike diere aangewys word. Enrico verduidelik dat al hul bulle vir veilings of skoue voorberei word met ’n Fase D rantsoen van Telwiedre-voere.
Huntersvlei Colossal 37ste spog met verskeie toekennings. Foto verskaf
“Die wen is vir ons ’n geweldige groot eer en ’n bewys dat ons teeldoelwitte by die mark en ander telers aanklank vind. Die feit dat hierdie bul dit gewen het is van nog meer belang omrede verskeie van sy voorouers al dieselfde prestasie op NAMPO, Vryburg, Bloemfontein en Pietermaritzburg behaal het. Hierdie bulfamilie is waarlik die hoeksteen van die Huntersvlei-kudde en daar gaan verskeie van sy seuns op ons veiling einde Julie aangebied word.
‘Word as ’n antieke ras beskou’
Die Sussexras is al in die jaar 1066 beskryf en word as ’n antieke ras beskou. Dit kom oorspronklik uit Engeland en is al 121 jaar in Suid-Afrika en volgens Cronjé landwyd aangepas. Die 40 stoeterye vind ’n mens in die Kalahari, die Karoo, die Oos- en Wes-Kaap, Sentraal- en Oos Vrystaat en selfs tot by Tomburke in Limpopo.
Die eienskappe van dié ras wat uitstaan, is hul uitstekende speengewig en naspeense groei, hul temperament en sterk erfdwang vanweë hul suiwerheid.
OFM Nuus dg