On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA stel nuwe bestuurder in Vrystaat aan

───   05:00 Mon, 27 May 2024

TLU SA stel nuwe bestuurder in Vrystaat aan  | News Article
Prof. Andries Raath. Foto verskaf

“Ek wil graag die Vrystaatstreek uitbou en ons boere se hande plaaslik versterk.”

’n Nuwe opwindende hoofstuk wag vir die historikus en regsgeleerde, prof. Andries Raath (69), wat pas aangestel is as die landbouorganisasie, TLU SA, se nuwe streeksbestuurder in die Vrystaat.

Raath, ’n kommersiële boer naby Brandfort, sal vanaf Maandag, (27/5) as bestuurder dien. Sy seun, Jannie, het die pos voor hom beklee.

Raath vertel sy aanstelling is hoofsaaklik daarop gefokus om die visie en missie van die TLU SA as ’n nasionale instelling te bevorder en om lede se belange positief te bestuur. “Ek sou dit baie graag vir die Vrystaatstreek uitbou en ons boere se hande plaaslik versterk.”

Om landbouers in staat te stel om veilig en vooruitstrewend te kan boer, ongehinderd voedsel en vesel te produseer en ’n positiewe bydrae tot die land se ekonomie te maak is vir TLU SA die belangrikste. “Dit sluit ook in om die ekonomie in die Vrystaat te versterk.”

Die handhawing van die vryemarkbeginsel, vry van staatsinmenging, en gewaarborgde privaat eiendomsreg, is die hoeksteen van die ekonomie, volgens TLU SA. “Dit is die enigste gewaarborgde manier van werkskepping en volhoubare groei vir land en streek.”

Daar is egter ook besonderse uitdagings en struikelblokke op verskillende vlakke van die landbou in die Vrystaat.

‘Ons sou ook graag die strukture in plek wil kry om saam met die regering te werk’

Een daarvan is die hantering van plaaslike regeringsaangeleenthede. “Die Wet op Plaaslike Regering het ’n impak op volhoubare ekonomiese groei. Ons sou ook graag die strukture in plek wil kry om saam met die regering te werk.”

Die kwessie van grondbelasting is ook ’n uitdaging. “Ons bly bekommerd oor die impak daarvan op produksie en voedselpryse.”

Raath beklemtoon die kwessie van privaat eiendomsreg en veiligheid van boere wat moet bevorder word.

“Die TLU SA se standpunt is dat slegs ’n vryemarkstelsel volhoubaar is. Dit skep sekerheid sodat boere doeltreffend kan boer in ’n omgewing van veiligheid.”  Daarom bly hulle voortdurend in gesprek met alle rolspelers.

Goeie omgewingsbestuur is ook belangrik en landbouers moet soveel as moontlik in harmonie met die natuur boer. “Ons wil ook gesonde en effektiewe bestuur bevorder wat ook lei tot die behoud van ons natuurlike hulpbronne.”

‘Voedselvoorsiening moet bekostigbaar en volhoubaar wees om die hongersnood en gebrek en skaarste aan voedsel op te los’

“Hier, met die aanvang van die winter, weet ons ook dat wisselvallige reënval ’n groot invloed op landbou het. Watersekerheid is van belang en bewaringslandbou daarmee saam. Boere moet bygestaan word om ’n gesonde grondslag te vorm.”

Raath sê wat ander uitdagings betref, is die hoë voedselpryse, armoede en hongersnood altyd daar. “Voedselvoorsiening moet bekostigbaar en volhoubaar wees om die hongersnood en gebrek en skaarste aan voedsel op te los.”

Hy sê hulle is voortdurend in beplanning en probeer alles in die stryd werp om dit vir die verbruiker bekostigbaar en volhoubaar te maak.

Om af te sluit sê Raath die TLU SA wil graag met ander landbouorganisasies en die regering werk en hande vat. “Ek nooi hulle uit sodat ons met doeltreffende beplanning die uitdagings saam kan aanpak en ’n sterk impak kan maak.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.