On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Kry meer uit jou braaikuikenboerdery

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Mon, 03 Jun 2024

Kry meer uit jou braaikuikenboerdery | News Article
Foto: Getty Images

“Daar is ’n aantal ‘klein jakkalsies wat die wingerd vernietig’, wat produsente in ag moet neem by die produksie van braaikuikens.”

As jy braaikuikens aanhou en voel jou hoenderboerdery is vir die voëls, NUTRI Feeds het onlangs baie waardevolle inligtingsessies aangebied om produsente te help om meer winsgewend wees.

Francois la Grange, tegniese adviseur monogastries in Noordwes en die Noord-Vrystaat, het tydens NAMPO Oesdag vertel daar is ’n aantal ‘klein jakkalsies wat die wingerd vernietig’, wat produsente in ag moet neem by die produksie van braaikuikens.

Hy noem produsente volg dikwels slaafs riglyne oor onder meer temperatuur, voer en ligtyd wat die kuikens moet kry om optimaal te groei, maar sonder om die redes daaragter te verstaan en aan te pas volgens die behoefte van die diere.

“Een van die inspirasies vir hierdie opleidingsprogram was die skade wat hoenders partykeer onder hulle voete kry as gevolg van ammoniak. ’n Beskadigde voet vorm nie deel van jou karkas nie, dis nie iets wat jy kan verkoop nie. Jy verloor 50g per voet en ons lig die finansiële impak hiervan uit.”

Besoekers luister aandagtig na die NUTRI Feeds sessie by NAMPO. Foto: NUTRI Feeds

NUTRI Feeds se Broiler Starter Pack-gids bevat verskeie aspekte van braaikuikenboerdery wat produsente in ag moet neem:

  • Behuising – moet skoon en ontsmet wees met ’n vloerbedekking van saagsels (minstens 2,5cm diep) of sonneblomdoppies (minstens 5cm diep).
  • Die hoeveelheid voëls per m² moet nie 15 oorskry nie, dus kan 100 voëls in 9m² (3x3m) geakkommodeer word.
  • Toerusting waaruit voer en water gegee word, sluit ’n “bell drinker” (1 vir elke 100 voëls) of “nipple drinker” (1 vir elke 12 voëls) en “pan feeder” (dag 1 – 7; 3 bakke vir elke 100 voëls) of “tube feeder” (3 vir elke 100 voëls) in.
  • Temperatuur moet afwissel na gelang van die ouderdom van die voëls asook die humiditeit.
  • Ventilasie moet voortdurend gemonitor word.
  • Ligtyd vir die kuikens sal wissel na gelang van hul ouderdom asook die aantal dae voor slagting.
  • Voeding is sowat 70% van insetkoste en dis beter om volgens die dier se inname en liggaamsgewig te bepaal as bloot om volgens die ouderdomsriglyn te voer.
  • Waterinname oor die algemeen is ongeveer twee keer die voerinname en basies die ouderdom van die kuiken maal 10ml.
  • Die saamkloekery van die hoenders kan ook aandui of daar steurnisse is soos wind, helder lig of geraas en of dit te warm of te koud in die fasiliteit is.

La Grange benadruk dat die gehalte en hoeveelheid water wat die braaikuikens inneem, nie onderskat moet word nie.

“Baie mense is gewoond daaraan om te dink ‘ek kry die water verniet, ek hoef nie te bekommer oor die kwaliteit nie’. Hoenders soek goeie water – drinkbaar, goeie temperatuur, vry van bakterieë, ’n goeie PH. Dit maak alles ’n groot verskil. Spiermassa bestaan 75% uit water, so die oorgrote meerderheid van jou hoender bestaan uit water. Goeie water inname loop hand aan hand met goeie voer inname.”

OFM Agri

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.