Agriculture
Dringende maatreëls om bek-en-klouseer in Oos-Kaap te beperk─── 19:37 Thu, 06 Jun 2024
“Die Oos-Kaapse provinsiale veeartsenydienste het beperkingstrategieë inwerking gestel insluitend die kwarantyn van bevestigde gevalle.”
Die Departement van Landbou het ’n dringende beroep op alle veeboere en eienaars in Suid-Afrika gedoen om die beweging van gesplete hoefdiere te beperk. Hierdie oproep volg op ’n onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap wat op vyf plase, spesifiek in die omgewing van Humansdorp en Oos-Londen geïdentifiseer is.
Die departement vra dat gesplete hoefdiere slegs verskuif moet word indien dit absoluut noodsaaklik is, veral omdat die geraakte plaas in Oos-Londen diere van verskeie oorspronge verkry het, wat moontlik die risiko van verdere verspreiding verhoog. Beperking van dierebewegings sal help om onopgemerkte besmette diere te identifiseer en in kwarantyn te plaas om verdere verspreiding te voorkom.
‘SAT3-stam van die virus is geïdentifiseer’
Die uitbreking is die eerste keer op 30 April aangemeld. Verdere ondersoeke het die teenwoordigheid van die siekte op vier ander plase in Humansdorp en ’n plaas in Oos-Londen gevind. Die Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsingslaboratorium in Pretoria het die diagnose bevestig, en die SAT3-stam van die virus deur middel van serologie en PCR-toetse geïdentifiseer.
Die Oos-Kaapse provinsiale veeartsenydienste het beperkingstrategieë inwerking gestel insluitend die kwarantyn van bevestigde gevalle. ’n Voortgesette epidemiologiese ondersoek probeer die oorsprong van die uitbreking opspoor en die risiko vir ander eiendomme bepaal. Onmiddellike bure en alle verwante liggings is onder voorsorgkwarantyn geplaas in afwagting van kliniese en serologiese ondersoeke.
Besmette beeste en skape is ingeënt teen bek-en-klouseer om die virale lading op hierdie plase te verminder. Boere word aangemoedig om biosekuriteitsmaatreëls te versterk om hul kuddes teen infeksie te beskerm.

Besmette vee moenie vervoer word nie. Foto: Wikipedia
Kragtens art. 11 van die Dieregesondheidswet het boere ’n wetlike plig om alle redelike stappe te doen om te voorkom dat hul diere siektes opdoen of versprei. In ooreenstemming met ’n regulasie wat in Oktober 2022 ingestel is, vereis die beweging van gesplete hoefdiere nou ’n gesondheidsverklaring van die eienaar wat die diere se gesondheidstatus ten tyde van beweging bevestig. Nuwe vee moet vir minstens 28 dae van die bestaande kudde geïsoleer word.
Boere moet waaksaam wees vir simptome, wat oormatige speekselvorming, blase in die mond, mankheid en hoefletsels insluit. Enige verdagte tekens moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word, en besmette diere moet nie vervoer word nie.
OFM Agri dg
