On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Jeug in Landbou: Onderwysers by ‘dorpskool’ kweek liefde vir landbou

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Mon, 10 Jun 2024

Jeug in Landbou: Onderwysers by ‘dorpskool’ kweek liefde vir landbou | News Article
Mnr. Walter Kotze saam met ’n leerder en kollega in die skool se hoenderhuis. Foto: Robyn Schutte

“ ’n Skool in die stad het die waarde van landbou raakgesien en die belangrike lewensvaardighede wat leerders daardeur kan leer.”

Walter Kotze, ’n toegewyde onderwyser en die departementshoof van landbou by Dr. Böhmer Vaardigheidskool in Bloemfontein, speel ’n sentrale rol in die ontwikkeling van landbouvaardighede by leerders. Onder sy leiding het die landbou-afdeling gegroei tot ’n praktiese en opvoedkundige sentrum wat leerders voorberei op ’n selfstandige en volhoubare toekoms.

Vier jaar gelede het Walter die inisiatief geneem om ’n lêhenprojek by die skool te begin. Wat met slegs 100 henne begin het, het nou uitgebrei na meer as 315 hoenders.

Hierdie projek voorsien nie net eiers aan die skool se koshuis nie, maar die surplus word ook aan die gemeenskap verkoop. “Ons het begin kyk na die behoeftes van ons gemeenskap en gevind dat lêhenne die beste opsie was. Dit is ’n goeie projek om vir ons kinders te wys wat hulle na skool kan doen met ’n bietjie geld en groot toewyding.”


Ná die sukses van die lêhenprojek, het die landbou-afdeling uitgebrei na groenteproduksie. Die skool het nou tuine waar hulle seisoenale somer- en wintergewasse plant.

Hulle het ook ’n tonnel van die onderwysdepartement ontvang, wat gebruik word om groente soos tamaties en komkommers te kweek. “Ons het ook onlangs ’n vrugteboord begin, waaroor ons baie opgewonde is.”

Die tonnel by Dr. Böhmer Skool. Foto: Robyn Schutte

Leerders se daaglikse roetine behels om eiers te gaan uithaal, te tel, skoon te maak en in die eierlaai te plaas. Daarna gaan hulle buitentoe om die vrylopende hoenders se eiers op te tel en hulle kos te gee. Die tuine word dan natgelei, geskoffel en gespit waar nodig. “Hierdie basiese take leer die kinders verantwoordelikheid en die waarde van harde werk.”

Aanvanklik was daar min belangstelling in die landbouklasse toe dit in 2020 begin het. Die kinders het gedink dit sou harde werk wees en dit was inderdaad die geval, maar hulle vind groot vreugde deur deel te wees daarvan. “Die hele bedryf word basies deur hulle gedoen, van skoffel tot omspit en die plant van gewasse. Maar soos die projek gegroei het, het die belangstelling ook gegroei.”

Vandag is daar 15 leerders in die landbouklas en die getal neem elke jaar toe.

Die groentetuin, waar leerders verskeie gewasse plant. Foto: Robyn Schutte

Walter glo dat een van die grootste lesse wat landbou aan leerders leer, die waarde van harde werk is. “Die natuur is onvoorspelbaar en jou planne werk nie altyd uit nie, maar jy moet altyd ’n plan B hê en voortgaan. Harde werk bring jou vêr en jy moet nooit opgee nie. Hierdie lewenslesse is belangrik vir ons leerders om te leer.”

Met Kotze se leiding en die toewyding van die leerders, kyk die landbou-afdeling van Dr. Böhmer Vaardigheidskool na ’n blink toekoms. Die projekte en inisiatiewe wat hulle aangepak het, het nie net die leerders se vaardighede en kennis uitgebrei nie, maar het ook ’n positiewe impak op die gemeenskap gehad.

Kotze se visie en harde werk het ’n merkbare verskil gemaak, en hy bly toegewyd aan die ontwikkeling van die volgende generasie landbou-entrepreneurs.

“Lekker by Landbou” een van die vele foto’s op die skool se kennisgewingbord wys dat landbou beslis ’n beduidende rol in die skool se kurrikulum speel. Foto: Robyn Schutte

OFM AGRI


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.