On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Oesskatting: Geen verrassing – minder koring is geplant

───   07:34 Tue, 30 Jul 2024

Oesskatting: Geen verrassing – minder koring is geplant | News Article
Foto: Getty Images

“Volgens voorlopige aanplantingsdata is die vooruitsigte vir die 2024/25-seisoen nie so rooskleurig soos die vorige seisoen nie.”

Die groot afname in winterkoringaanplantings in die Vrystaat en Limpopo is nie verbasend nie. Landbousakekamer, Agbiz, meen die noordelike streke van Suid-Afrika het ’n strawwe midsomerdroogte beleef, wat tot aansienlike oesverliese gelei het.

Wandile Sihlobo, die hoofekonoom vir Agbiz, meen produsente is onder finansiële druk en huiwerig om winterkoringaanplantings te vermeerder. Boonop het koringpryse met ongeveer 5% jaar-tot-jaar afgeplat.

“Die winterkoringseisoen vir 2024/25 het ontstuimig begin. Die Wes-Kaap, wat ’n beduidende bydrae lewer tot die land se wintergewasse, het droër weerstoestande in Mei en Junie ervaar, gevolg deur oormatige reën sedert die begin van Julie. 

“Gelukkig blyk dit dat die skade aan die nuwe aanplantings tot dusver minimaal is. Nietemin, die oormatige reën het infrastruktuurversteurings in sekere gebiede van die Wes-Kaap, soos Citrusdal en omliggende woongebiede, veroorsaak.”

Wandile Sihlobo, die hoofekonoom vir Agbiz. Foto: Agbiz

Die Wes-Kaap se wintergewasse dra grootliks by tot die land se totale produksie. Ongeveer 70% van die winterkoringaanplantings vir die 2024/25 seisoen is in hierdie provinsie.

Volgens voorlopige aanplantingsdata, is die vooruitsigte vir die 2024/25 seisoen nie so rooskleurig soos die vorige seisoen nie. Die Oesskattingskomitee skat Suid-Afrika se 2024/25 wintergewasaanplantings op 794 000 hektaar, ’n afname van 3% jaar-op-jaar. Die grootste areas van afname is gars en koring, terwyl kanola, hawer en soetlupiene ’n toename in area-aanplantings toon, maar dit is onvoldoende om die totale area-aanplantings vir die seisoen te verhoog.

Vir koring is die voorlopige area-aanplantings 502 000 hektaar, ’n afname van 7% vanaf die 2023/24-seisoen. “Dit is die laagste area-aanplanting in sewe jaar. Die skerpste dalings in area-aanplantings is in die Vrystaat en Limpopo,” vertel Sihlobo wat meen die groot afname in winterkoringaanplantings in die Vrystaat en Limpopo is nie onverwags nie.

“Die noordelike streke van Suid-Afrika het ’n strawwe mid-somerdroogte beleef, wat tot beduidende gewasverliese gelei het. Boere in sommige van hierdie streke verkeer onder finansiële druk en is dus verstaanbaar huiwerig om die winterkoringaanplantings te verhoog. Verder het koringpryse vanjaar matig gestyg, ongeveer 5% jaar-op-jaar.”

Sihlobo reken as weerstoestande, veral in die Wes-Kaap, gunstig bly vir die res van die seisoen en ons behaal ’n vyfjaar gemiddelde opbrengs van 3,78 ton per hektaar in ’n gebied van 502 000 hektaar, kan die winterkoringoes 1,89 miljoen ton beloop. “Dit sou ook ’n afname van 7% jaar-op-jaar wees en goed onder die vyfjaar gemiddelde winterkoringoes van 2,02 miljoen ton.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.