On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Nadine
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou se kongres plaas klem op vooruitgang

───   ROBYN SCHUTTE 09:32 Wed, 31 Jul 2024

Vrystaat Landbou se kongres plaas klem op vooruitgang | News Article
Met die oog op die organisasie se 120ste bestaansjaar fokus die bestuur tydens vanjaar se kongres te fokus op die pad vorentoe. Foto: iStock.

“Met die tema ‘waarheen gaan jy?’, hoop Vrystaat Landbou om die vooruitgang van die bedryf te inspireer tydens vanjaar se kongres.”

Die Vrystaat Landbou (VL) se kongres vind eerskomende Woensdag (7/8) in Bloemfontein plaas. Die organisasie vier vanjaar hul 120ste bestaansjaar en hoop om met dié kongres saam met belanghebbendes te bou op die suksesse wat die bedryf reeds behaal het. 

Gernie Botha, hoof- uitvoerende beampte, verduidelik die tema van vanjaar se kongres, is die Latynse gesegde “quo vadis“, wat in Afrikaans vertaal word met “waarheen gaan jy”.

“Met die oog op ons organisasie se 120ste bestaansjaar het ons dit goedgedink om te fokus op die pad vorentoe. Daar is baie veranderinge (tans) aan die gang, en binne die organisasie kan ons kyk na waarnatoe ons op pad is.”

‘Die boere is eintlik redelik onder druk finansieel’

Volgens president Francois Wilken was die afgelope jaar ’n baie moeilike landboujaar. “Dis ’n baie moeilike landboujaar gewees in terme van oeste, opbrengste, vee, en pryse. Die boere is eintlik redelik onder druk finansieel. Die winsmarges is baie laag op die huidige stadium.

“In die Vrystaat self is daar ouens wat baie swak oeste gemaak het en ander wat goeie oeste gemaak het. Ons hoop is dat die kongres hulle sal bemoedig om aan te hou.”


Hy voeg by dat die minister van landbou, asook die LUR by die kongres teenwoordig sal wees, en hoop dat kwessies wat dringende aandag verg, soos die agterstand van inentings vanaf Onderstepoort Biological Products, bespreek sal word. Daar sal ook met afgevaardiges geskakel word oor die pad vorentoe, die toekom van landbou en hoe hulle (VL) saam kan werk.

Botha beklemtoon die belang van bywoning van die kongres. “Enige organisasie is maar so goed soos ’n grondvlak, en Vrystaat Landbou is reeds so gestruktureer. Die kongres is die hoogste gesag binne die organisasie, en daardie grondvlakstrukture wat (tans) bestaan uit sowat 146 boereverenigings is dan eintlik die stem van Vrystaat Landbou.

‘Alle landbouers wat nog nie geregistreer het nie, moet gerus kontak maak’

“Ons sou graag by die boere insette wil ontvang oor wat hulle sien, wat hulle gevoel is, en wat hulle elke dag beleef, om saam met ons besluite te neem vir die pad vorentoe.”

Vrystaat Landbou nooi alle landbouers wat nog nie geregistreer het nie, om gerus kontak te maak.

“Daar is nog ’n paar plekke beskikbaar, maar hulle word gou gevul. Ons sien uit na ’n lekker kongres met goeie gesprekvoering,” sê Botha.

OFM Agri/Robyn Schutte mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.