Agriculture
Vroue in Landbou: Aret deel haar wenverhaal─── 05:00 Mon, 19 Aug 2024
“Vir haar is dit ’n voorreg om op ’n plaas te woon, om daar oud te word.”
In die hartjie van die Vrystaat, op die rustige plaas Palestina naby Zastron, woon Aret Labuschagne – ’n vrou wie se lewe ’n mengsel van tradisie, uitdagings en diepgewortelde waardes is. Danksy ’n lewe wat oor dekades op die plaas deurgebring is, het Labuschagne ’n onlosmaaklike deel van die landbougemeenskap in hierdie streek geword.
Sy het in 1970 na die Vrystaat verhuis, en sedertdien het sy haar lewe gewy aan die plaas. “Ek het alles by my skoonma geleer, hoe om ’n boervrou te wees – van vrugteverwerking tot die slag van beeste en skape, al die nodige vaardighede om die lewe op die plaas aan te pak.”
Hoewel Labuschagne gou verduidelik dat sy nie self die boer in die familie was nie, het sy altyd ’n belangrike ondersteunende rol gespeel. “Ek wil eintlik sê op hierdie stadium is ek my seun se ‘voorvrou’,” vertel sy met ’n glimlag. Haar seun bly in Bloemfontein, terwyl sy die plaas bestuur.
Sy moes ook al deur diep waters gaan weens kanker. “Ek sal sê ’n boervrou is ’n wonderlike mens. Dis ’n uithoumens. Dis ’n aanhoumens.’
Vanweë ’n diep liefde vir die natuur en die rustige lewe wat die plaas bied, is Labuschagne dankbaar om elke dag op die plaas wakker te word. “Elke oggend sê ek nog dankie vir die Here dat ek die voorreg het om op die plaas wakker te word. Die natuur is so mooi en so rustig. Dit werk so vreedsaam op ’n mens se gemoed in.”
Vir haar is dit ’n voorreg om op ’n plaas te woon, om daar oud te word. “As jy net ’n bietjie meel en suiker in die huis het, dan maak jy ’n plan om iets daarvan te maak.”
Ten spyte van die uitdagings van die boerdery en die lewe op die plaas bly Labuschagne hoopvol oor die toekoms. Sy is ’n ware inspirasie vir die vroue van die Vrystaat, ’n simbool van die krag en moed wat nodig is om die boerderylewe aan te pak.
OFM Agri/Johan Gunter cg/mc
