On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Anika de Beer se herlewingsdrif

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Tue, 20 Aug 2024

Vroue in Landbou: Anika de Beer se herlewingsdrif | News Article
Die vriendelike meteoroloog met ’n groot liefde vir landbou. Foto verskaf

“Ek het regtig ’n hart vir boere en vir wat hulle doen vir ons almal. So, as ek tot enige mate kan bydrae daartoe dat selfs ’n enkele boer weer hoop kry, en uit ’n benarde situasie op hulle plaas kan kom, dan sal dit genoeg wees vir my.”

Anika de Beer, die bekende weerkundige met die stralende glimlag en warm persoonlikheid, het nie net in die harte van Suid-Afrika se televisiegehore ingekruip nie, maar het ook al haar spoor in Sentraal-Suid-Afrika gelaat.

Gebore in Pretoria, het De Beer op Potchefstroom agter die skoolbanke ingeskuif by President Pretorius Laerskool en Potchefstroom Gimnasium Hoërskool. Ná skool het sy B.Sc. Meteorologie aan die Universiteit van Pretoria studeer en haar loopbaan as lugvaartweervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens by O.R. Tambo-lughawe begin.

“Ek was nog altyd totaal en al gefassineer deur die weer. Toe ek die fliek Twister op laerskool gekyk het, het ek vir my ouers gesê ek gaan ’n ‘storm chaser’ word. My ouers het seker gedink dit sal oorwaai, maar ek was vasbeslote.”

De Beer se pa het toe navrae gedoen en haar laat weet dat sy meteorologie moet gaan studeer, wat slegs by Tukkies voorgraads aanbied word. Nadat sy as weervoorspeller begin werk het, het sy ook haar Meestersgraad in Meteorologie, onder leiding van Professor Willem Landman voltooi.

Dit was eers toe haar paaie in 2020 met Restore Africa gekruis het, dat sy begin voel het dat sy werklik ook nou terugploeg in die landbou, benewens die feit dat produsente op weervoorspellings staatmaak.

“As meteoroloog is klimaatsverandering ’n groot kwessie waarvan jy dikwels net mense vertel. Ek het nooit gevoel ek is deel van ’n span wat oplossings bied nie. Restore Africa fokus op die omskakeling na herlewingslandbou.

“Dit was vir my ongelooflik om te leer watter groot invloed verskillende landboupraktyke kan hê, nie net op ’n plaas se eie volhoubaarheid, winsgewendheid en veerkragtigheid nie, maar ook hoe ons landbougrond kan gebruik as ’n koolstofspons.”

De Beer woon saam met haar man, Abri, en hul twee Frenchies (Franse Bulhonde), Remi en Ami, in Pretoria. “Ons hoop om later ook ons eie gesin te hê wanneer ek die behandeling en kankerhoofstuk afgehandel het.” In 2021 is fase drie-melanoomkanker by haar diagnoseer. Foto verskaf

De Beer se heel eerste kennismaking met landbou was egter nie in die korporatiewe sektor nie, sy koester ook heimwee van haar ouma se plaas buite Potchefstroom.

“Ek het as jong dogtertjie reeds gesien hoe werk dinge op ’n plaas; ook hoe uitdagend dit kan wees. Ek onthou hoe my oom so oor die horison uitgetuur het om te kyk vir wolke en dan sal hy ook dorp toe bel om te hoor of daar al druppels geval het.”

Vandag is De Beer nie net die vriendelike gesig op Ontbytsake as aanbieder en weervoorspeller nie, by Restore Africa het haar rol van omgewings- en sosiale impakontleder ook al uitgebrei na operasionele direkteur, en sy is ’n bekende op paneelbesprekings by kongresse.

‘Haar toekomsvisie is dat bewarings- en herlewingslandbou die norm moet word’

“Ons het almal voedsel nodig, maar tog is daar vir die boere eintlik baie min ondersteuning en juis daarom wil ek graag probeer ’n verskil maak in hierdie bedryf. Ek het regtig ’n hart vir boere en vir wat hulle doen vir ons almal. So, as ek tot enige mate kan bydrae daartoe dat selfs ’n enkele boer, wat moedeloos is, weer hoop kry en uit ’n benarde situasie op hulle plaas kan kom, dan sal dit genoeg wees vir my.”

Haar toekomsvisie vir landbou in Suid-afrika is dat bewarings- en herlewingslandbou die norm moet word. “Net soos dit al in sommige ander lande soos Argentinië is. Ons kan sien wat die wonderlike resultate is wat hulle daaruit kry.

“As ons  herlewingslandbou die norm kan maak, dan sal dit bydrae tot gesonde landbougrond wat beteken ons kan gesonde voedsel produseer. Ons kan volhoubare plase hê en ons kan ’n volhoubare landbousektor hê.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.