Agriculture
Lesothogrens: LUR’e moet werk maak van veiligheidsituasie─── 10:29 Tue, 27 Aug 2024
Daadwerklike veiligheidsaspekte is uitgelig, wat ook op die veiligheidsberaad oorgedra sal word waar daar hopelik oplossings op die tafel gesit sal word.
Op die vooraand van die Landelike Veiligheidsberaad, wat op 28 en 29 Augustus 2024 in die Vrystaat gehou word, het Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), laat weet dat Jabu Mbalula, die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, tydens skakeling met die organisasie onderneem het om gemeenskappe aan die Lesotho-grens te ontmoet om hul probleme aan te hoor.
Op 22 Augustus het VL die LUR vir Landbou, Elzabé Rockman, Mbalula, asook verteenwoordigers van die polisie se topstruktuur, die weermag, die grensbestuurowerheid en die Huis van Tradisionele Leiers ontmoet om die toenemende misdaad en veiligheidskwessies aan te spreek wat grensboere en gemeenskappe ervaar.
‘Onwettige deurgangsroetes na Lesotho word deur kriminele uitgebuit’
“Vrystaat Landbou se aanbieding was gefokus op hoë misdaadgebiede wat al jare lank geteister word, met onwettige deurgangsroetes na Lesotho wat deur kriminele uitgebuit word vir veediefstal, oorgrensweiding en ander misdaad,” vertel Wilken in ’n verklaring.
Hy’t verder bevestig dat daadwerklike veiligheidsaspekte uitgelig is, wat ook op die veiligheidsberaad oorgedra sal word waar daar hopelik oplossings op die tafel gesit sal word om die grensveiligheid dringend aan te spreek.
Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, het ook daarop gewys dat alle rolspelers eens was dat beter samewerking en verhoogde aksies noodsaaklik is om die grensveiligheid te verbeter. Onderwerpe soos die oprigting van skutte, die afwesigheid van ’n grenspad en swak selfoonnetwerke is bespreek, en daar word reeds planne in werking gestel om hierdie probleme aan te spreek.
OFM Agri cg
