Agriculture
Saai en AfriForum roep Interpol tot aksie oor veediefstal─── 06:00 Fri, 30 Aug 2024
“Die organisasies vra ook beter samewerking tussen Suid-Afrika en Lesotho se wetstoepassingsagentskappe om hierdie krisis effektief te hanteer.”
In ’n dringende oproep aan Interpol vra landbou-organisasie Saai en drukgroep AfriForum vir onmiddellike ingryping om die groeiende bedreiging van oorgrens veediefstal tussen Suid-Afrika en Lesotho aan te spreek.
Hierdie misdaad, wat plaaslike boerderygemeenskappe hard tref, het ook tot ’n toename in geweld gelei.
In ’n brief aan Jürgen Stock, Interpol se sekr.genl., wat Donderdag (29/8) gestuur is, beklemtoon die organisasies dat beter internasionale samewerking nodig is om hierdie misdade effektief te hanteer. Volgens Saai en AfriForum is daar ’n ernstige toename in die aantal veediefstalle, ondanks Interpol se bestaande pogings om dit te bekamp.
“Die situasie het ’n kritieke punt bereik waar onmiddellike en beslissende optrede nodig is. Ons boere leef voortdurend in vrees vir hul lewens en lewensbestaan,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.
“Die eskalerende geweld en brutale diefstalle bedreig nie net ekonomiese stabiliteit nie, maar ook die struktuur van hierdie gemeenskappe.”
Saai en AfriForum vra ook dat Interpol ’n diepgaande ondersoek loods na die omvang van georganiseerde misdaadsindikate wat betrokke is by veediefstal in die grensgebiede. Daarbenewens vra hulle dat Interpol spesifieke hulpbronne beskikbaar stel om plaaslike wetstoepassingsagentskappe in hul pogings te versterk.
Dr Theo De Jager, uitvoerende direkteur van Saai, sê verder: “Ons erken Interpol se vorige pogings in hierdie verband, maar die eskalerende aard van hierdie misdade vereis ’n meer verskerpte en gekoördineerde reaksie.
“Ons doen ’n beroep op Interpol om sy internasionale reikwydte en kundigheid te benut om broodnodige verligting en sekuriteit aan ons boerderygemeenskappe te bring.”
Die organisasies dring verder aan op beter samewerking tussen Suid-Afrika en Lesotho se wetstoepassingsagentskappe om hierdie krisis effektief te hanteer.
‘Die verlies aan vee het ’n groot impak op die boere se gemeenskapsbestaan’
Hulle dui ook aan dat veeboerdery ’n integrale deel van die plaaslike ekonomie en voedselsekerheid is, en dat die verlies aan vee ’n groot impak op die boere se inkomste en gemeenskapsbestaan het.
Saai en AfriForum vra Interpol vir inligting oor die stappe wat hulle beplan om te implementeer en het daarop aangedring dat gereelde opdaterings oor die vordering van hierdie pogings gegee word.
OFM Agri mvh
