On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Misdaad neem af, maar plaasgemeenskappe meer kwesbaar

───   07:00 Wed, 27 Nov 2024

Misdaad neem af, maar plaasgemeenskappe meer kwesbaar | News Article
Police Minister Senzo Mchunu released 2024/25 Q2 crime stats. Photo: X

Ernstige misdade in plaasgemeenskappe het weer toegeneem ná ’n skerp afname.

Van Julie tot September is 118 soortgelyke misdade landswyd aangemeld, in vergelyking met net 73 in dieselfde tydperk verlede jaar, maar 150 van Julie tot September 2022, luidens die polisie se jongste misdaadstatistieke.

Die enigste afnames in vergelyking met die vorige jaar was in aanranding met die opset om ernstig te beseer, voertuigkapings en diefstal op nieresidensiële persele. Die skerpste toenames was onder meer in roof met verswarende omstandighede (van 39 tot 54 gevalle), kontakmisdade (van 70 tot 90 gevalle), roof op residensiële persele (van 28 tot 51 gevalle) en eiendomsverwante misdade (drie tot 21).

In die tweede kwartaal van die boekjaar tot September is 15 moorde in plaasgemeenskappe gepleeg. Twee daarvan was boere: een elk in die Noord- en Wes-Kaap.

‘Landswyd is 6 545 moorde aangemeld’

Minder gevalle van veediefstal is aangemeld in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat, ’n landswye tendens. Dit weerspieël ’n afname in die meeste misdade. Landswyd is 6 545 moorde aangemeld (400 minder as ’n jaar vantevore), 12 765 seksuele misdrywe (325 minder) en 10 191 verkragtings (ook 325 minder).

Klein toenames is aangemeld in pogings tot moord (2,2% meer), aanranding met die opset om ernstig te beseer (1%), pogings tot seksuele misdrywe (1,1%) en kontak- seksuele misdrywe (1,2%).

Intussen bly die moordkoers (getal moorde per 100 000 inwoners) in Sentraal-Suid-Afrika onder die nasionale gemiddelde van 10,5. In die Vrystaat staan dit op 7,3, in die Noord-Kaap 5,3 en in Noordwes 6,9. Net die Oos-Kaap (19,8), Wes-Kaap (14,2) en KwaZulu-Natal (12,1) se moordkoers is bo die nasionale gemiddelde.

Die meeste moorde word gepleeg in openbare plekke

In die tweede kwartaal is 214 mense (18,6% minder as die vorige jaar) in die Vrystaat vermoor, 71 in die Noord-Kaap (25% minder) en 297 in Noordwes (4,2% minder). Die landswye afname was 5,8%.

Die grootste oorsake van moord is rusies, misverstande, padwoede en uitlokking, terwyl die meeste moorde gepleeg word in openbare plekke soos op straat, in oop velde of parke en op strande.

In die oorsigtydperk is net 18 polisiebeamptes vermoor in vergelyking met 35 ’n jaar vantevore. Slegs een polisiebeampte is in die Vrystaat om die lewe gebring. In die tweede kwartaal verlede jaar is ses moorde op wetstoepassers in Sentraal-Suid-Afrika aangemeld.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.