Agriculture
Graan SA kyk terug op 2024─── ROBYN SCHUTTE 14:24 Wed, 11 Dec 2024
Die landbousektor in Suid-Afrika het in 2024 verskeie uitdagings ervaar, maar het ook weereens sy veerkragtigheid en volhoubaarheid bewys.
Dr. Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, kyk terug op sy eerste volle jaar in die amp en deel dié kommoditeitorganisasie se Kersboodskap en vooruitsigte vir die komende jaar.
Uitdagings van 2024
Volgens Doyer was die jaar gekenmerk deur uiterste weersomstandighede en ekonomiese druk. “Aan die begin van die jaar het die oeste belowend gelyk, maar vanaf Januarie het die droogte begin byt. Aan die ander kant het Kaapse boere met oormatige reënval en gepaardgaande siektes gesukkel.”
Internasionale ekonomiese druk het verder bygedra tot die uitdagings, met dalende kommoditeitspryse en stygende insetkoste wat produsente onder druk geplaas het.
Doyer wys ook op die groot politieke veranderinge wat die jaar gekenmerk het, insluitend die totstandkoming van ’n regering van nasionale eenheid. “Hierdie nuwe beleidsraamwerk bring interessante uitdagings en geleenthede vir die sektor.”
Hoogtepunte van 2024
Tussen die uitdagings het daar ook positiewe ontwikkelings plaasgevind. Suid-Afrikaanse boere het hul vermoë bewys om, selfs te midde van moeilike omstandighede, voedselselfvoorsienendheid te handhaaf.
“Ons boere het ongelooflike werk gedoen om genoeg voedsel vir die land te produseer, ten spyte van swaar druk van buitelandse markte en natuurlike rampe,” sê Doyer trots. Nog ’n ligpunt was die voortdurende belegging in tegnologie en navorsing.
Doyer beklemtoon dat slim aanwending van hulpbronne en tegnologie ’n groot rol gespeel het in die sukses van die sektor. “Die sukses van ons vryemarkbeleid is duidelik in hoe ons produsente daarin geslaag het om volhoubaar te bly, selfs terwyl buurlande met voedseltekorte sukkel.”
Vooruitsigte vir 2025
Doyer sê dat die komende jaar uitdagings sal bring, veral met die internasionale ekonomie wat onder druk bly. “Die vraag na voedsel is afhanklik van globale ekonomiese gesondheid, en beskermingsmaatreëls deur groot lande soos die VSA kan ’n negatiewe impak op handel hê.”
Hy beklemtoon dat produsente strategies moet werk om suksesvol te bly. “Ons sal moet fokus op slim beplanning en die gebruik van innoverende tegnologie om die impak van ekonomiese en klimaatsuitdagings te verminder.”
Graan SA se Kersboodskap
“Ons boere werk naby aan die skepping en ontvang elke dag genade van bo. Ten spyte van die uitdagings van die jaar, het ons gesien hoe boere se deursettingsvermoë ’n verskil maak.
“Hierdie feestyd is ’n geleentheid om dankbaar te wees vir wat ons bereik het en om kragte te herwin vir die volgende seisoen.”
Hy wens alle boere ’n geseënde Kersfees toe en hoop dat 2025 groot geleenthede en sukses sal bring.
“Mag die reëns volhou en voorspoedige oeste verseker. Ons het die vermoë om enige uitdaging te oorkom, en ek sien uit na wat ons saam kan bereik in die nuwe jaar.”