Agriculture
Agbiz: Verslag oor varsproduktemarkte waardevol, maar ook onrealisties─── 05:00 Wed, 22 Jan 2025

Die Landboubesigheidskamer, Agbiz, verwelkom die Mededingingskommissie se finale verslag oor die ondersoek na varsproduktemarkte (FPMI) as ’n waardevolle bydrae tot die begrip van die varsproduktemarkstruktuur in Suid-Afrika.
Hulle waarsku egter dat sommige van die aanbevelings en bevindings onrealisties en buite die kommissie se mandaat strek.
Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, beklemtoon die verslag se bevindings en aanbevelings is nie bindend nie en die relevante regeringsdepartemente moet dit eers evalueer.
“Sommige aanbevelings beweeg buite die Mededingingskommissie se mandaat en die oorspronklike omvang van die FPMI. Die belangrikste aanbevelings is onmededingend deur kwotas in terme van volumes en getalle af te dwing,” verduidelik Sihlobo.
LEES OOK: Fresh Produce Market Inquiry – Commission makes 31 recommendations
Hy wys daarop dat die verslag ooreenstem met die bevindings van die Nasionale Landboubemarkingsraad se verslag oor Nasionale Varsprodukte Markte enkele jare gelede. “Die verslag is ’n waardevolle bron oor die bedryf se struktuur en prysontwikkelings. Dit herbevestig die belangrikheid van varsprodukte markte in prysontdekking en voedselsekerheid.”
’n Kritieke punt wat die verslag aanroer, is die verswakte infrastruktuur van munisipaliteite wat verantwoordelik is vir die instandhouding en herbelegging in varsprodukte markte. “Dit bevestig weer ons standpunt dat plaaslike regerings grootliks die skuld dra. In baie opsigte belemmer swak diens en bestuur deur munisipaliteite die deelname van swart boere aan ekonomiese en kommersiële aktiwiteite,” sê Sihlobo.
Fresh produce markets are key for price discovery and food security pic.twitter.com/9E6oXF1HH7
— Wandile Sihlobo (@WandileSihlobo) January 14, 2025
Die verslag erken tereg die lae deelname van swart boere en klein- tot mediumskaalmarkprodusente as ’n uitdaging, meen Sihlobo. Hy wys egter daarop dat dit deel is van ’n breër probleem in die landbousektor. “Die regering se besit van sowat 2,5 miljoen hektaar landbougrond kan gebruik word om swart boere se produksie te versterk. Al is nie al die grond geskik vir varsprodukte nie, kan dit steeds ’n verskil maak.”
Verder sê Sihlobo dat gevestigde rolspelers in die landbou moet help met vaardigheidsoordrag aan nuwe toetreders, soos ook in die Landbou- en Agroverwerkingsmeesterplan geïdentifiseer.
Wat konsentrasie en prysdeursigtigheid op kleinhandelsvlak betref, stem Agbiz saam dat daar kwessies is om aan te spreek. Tog het die verslag geen duidelike bewys van wanpraktyk deur groot kleinhandelaars gevind nie.
“Die FPMI kon nie bewys dat groot kleinhandelaars buitensporige koopkrag oor boere het nie. Meeste produsente is nie in ’n kwesbare posisie wanneer hulle direk met groot kleinhandelaars kontrakteer nie,” voeg Sihlobo by.
Die verslag beklemtoon dat varsproduktemarkte steeds ’n belangrike alternatief vir produsente is en dat plaaslike regerings hul rol beter moet speel.
‘Ekstra etiketteringsvereistes kan ’n las wees’
Ten opsigte van kleinhandelpryse is daar kommer oor ekstra etiketteringsvereistes wat ’n las vir kleinhandelaars kan wees, met twyfel oor die waarde daarvan vir verbruikers.
“Ons ondersteun nie hierdie aanbeveling nie. Varsproduktepryse in Suid-Afrika is reeds relatief bekostigbaar, en prysontdekking is deursigtig. Ander ingrypings sal waarskynlik nie veel waarde toevoeg nie,” sluit Sihlobo af.