Agriculture
SEB in landbou: Middeletoets nodig vir voornemende boere─── 09:51 Wed, 19 Feb 2025
Ontleders bepleit die instelling van ’n middeletoets om voornemende toetreders tot die landboubedryf, wat nie oor voldoende hulpbronne beskik nie, te identifiseer en by te staan.
Volgens dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier en hoofwoordvoerder vir landbou, is dit ’n positiewe stap dat bedryfsheffings toegang tot kommersiële landbou vergemaklik.
Hy beklemtoon egter dat nuwe toetreders, ongeag hul ras, dieselfde uitdagings in die bedryf ervaar.
Polemiek tussen Sakeliga en minister Steenhuisen
Boshoff het hierdie standpunt gestel in reaksie op die voortslepende polemiek tussen die sake-organisasie Sakeliga en John Steenhuisen, die minister van landbou, oor SEB in landbou.
Steenhuisen het tydens ’n onlangse mediakonferensie sterk kritiek teen Sakeliga uitgespreek ná die organisasie se kommer oor die departement van landbou se sogenaamde ‘transformasiefondse’. Hy het Sakeliga se bewerings as “vals en misleidend” afgemaak en Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, daarvan beskuldig dat hy ’n veldtog van “waninligting en sensasionalisme” dryf.
Volgens Steenhuisen is die departement van landbou nie verantwoordelik vir die implementering van SEB in landbou nie – dit val onder die departement van handel en nywerheid, wat reeds in 2017 die regulasies goedgekeur het, lank voor sy ampstermyn.
Hy het verder verduidelik dat die bewerings oor transformasiefondse ongegrond is. “Die statutêre heffings waarna Le Roux verwys, is sedert 1996 ’n wettige vereiste. Dit is egter die 21 onafhanklike kommoditeitsgroepe wat hierdie heffings inisieer.
“Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) ondersoek en rapporteer aan die minister, wat slegs die heffings goedkeur – nie instel of beheer nie.”
Strukturele uitdagings in die landbousektor
Boshoff wys daarop dat konsentrasie ’n duidelike kenmerk van die Suid-Afrikaanse landbousektor is.
“Die oorgang van informele, kleinskaalse landbou-ondernemings na groter, formele ondernemings is uiters duur en tegnies veeleisend. Daarbenewens verskil die markwaarde en produksiewaarde van landbougrond, wat beteken dat die koste van grond te hoog is om dit net uit landbouproduksie te kan finansier.”
Hy benadruk dat, hoewel bedryfsheffings toegang tot kommersiële landbou bemiddel, jong wit toetreders dieselfde uitdagings as swart toetreders ervaar. “Daarom is ’n middeletoets nodig om voornemende boere sonder die nodige hulpbronne te identifiseer en by te staan. Soos sake tans staan, trek veral jong wit boere aan die kortste end.”
Sakeliga se standpunt en verdere stappe
Sakeliga het in ’n verklaring op 13 Februarie bevestig dat die organisasie besig is met ’n ondersoek na die uitbreiding van SEB in landbou. Volgens hulle verdedig die minister nie net die beleid nie, maar handhaaf hy ook die implementering daarvan.
Le Roux voer aan dat, hoewel SEB in landbou reeds voor Steenhuisen se ampstermyn ingestel is, hy dit nog nie hersien het nie en sy direkteur-generaal toegelaat het om regulasies in lyn met die beleid te hernu. “SEB in landbou se doelwit is om transformasie af te dwing en dit ’n verpligte voorwaarde te maak vir lisensies, permitte, waterregte en ander staatskonsessies.”
Sakeliga het in 2023, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, versoek dat die beleid openbaar gemaak word. Die organisasie beweer dat die departement van landbou en sekere bedryfsrolspelers die bestaan daarvan probeer ontken of verswyg het.
?? UPDATE: Why is the Minister of Agriculture promoting AgriBEE?
— Sakeliga (@Sakeliga) February 17, 2025
Minister Steenhuisen is upholding BEE and establishing several transformation funds.
AgriBEE is the department’s officially adopted policy to make BEE compulsory in agriculture.
An update on what’s happening ?? pic.twitter.com/hZj7030fa7
Hulle het ook aangedui dat die minister tussen Oktober 2024 en Januarie 2025 minstens drie regulasies onderteken het wat miljarde rande vir transformasie eenkant sit as deel van statutêre gewasheffings. Volgens Sakeliga herinner hierdie transformasiefondse sterk aan die betwiste R100 miljard Transformasiefonds van minister Parks Tau by die departement van handel, nywerheid en mededinging.
Sakeliga het verder PAIA-versoeke aan die departement van landbou gerig om meer inligting oor hierdie fondse te bekom en te bepaal hoeveel ander sulke fondse bestaan.
“Ons sal voortgaan om SEB-planne in die landbousektor bloot te lê en om hierdie skadelike ingrypings in die belang van ’n florerende, waardegerigte landbousektor te weerstaan,” sê Le Roux.
Gelyke wegspringplekke
Minister Steenhuisen beklemtoon dat ekonomiese geregtigheid nie neerkom op gelyke uitkomste nie, maar eerder op gelyke geleenthede. “Ek is nie geïnteresseerd in rasgebaseerde kwotas nie, maar in ’n gelyke wegspringplek vir alle Suid-Afrikaners.”
Hy het Sakeliga uitgedaag om hul besware in die hof te toets indien hulle van mening is dat die statutêre heffings onregmatig is.
OFM Agri mvh
