On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Aartappels SA vier wêreldrol van dié gewilde gewas

───   05:00 Mon, 26 May 2025

Aartappels SA vier wêreldrol van dié gewilde gewas | News Article
Foto: Getty Images

Die Internasionale Dag van die Aartappel op 30 Mei vier die gewas wat geskiedenis vorm én die toekoms voed.

Aartappels SA het aangekondig dat hulle op 27 en 30 Mei 2025 die Internasionale Dag van die Aartappel gaan vier met spesiale aktiwiteite by die Kaapstad- en Johannesburgse Varsproduktemarkte.

Die dag, wat deur die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies en die VN se Algemene Vergadering erken word, het vanjaar die tema: “Shaping History, Feeding the Future”.

Hierdie dag dien as ’n internasionale erkenning van die aartappel se wye voedings-, ekonomiese, omgewings- en kulturele waarde – en beklemtoon die belangrike rol wat die gewas wêreldwyd speel in voedselsekerheid en as bron van inkomste vir landelike gesinne en produsente.

Suid-Afrika: ’n leidende aartappelprodusent

Suid-Afrika is een van die grootste aartappelprodusente op die Afrika-kontinent, met ’n gemiddelde aanplantingsgebied van 51 572 hektaar oor die afgelope vyf jaar. Dit lewer meer as 107 miljoen 10 kg-sakke aartappels wat jaarliks deur die land se varsproduktemarkte verkoop word. Die gemiddelde aartappelverbruik per persoon in Suid-Afrika staan tans op 37 kg per jaar, met die teiken om dit tot meer as 40 kg op te stoot.

“Die aartappel is een van die wêreld se vyf belangrikste voedselgewasse en speel ’n kritieke rol in voedselsekerheid en werkskepping,” sê Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels SA.


Markdae en feesviering

Die Suid-Afrikaanse vieringe sal die voedingsvoordele van aartappels uitlig, met buitelug radio-uitsendings, onderhoude, uitstallings van verskillende kultivars en aartappelprodukte, verbruikersinligting, en pryse vir kopers van aartappels tydens die markdae.

Aartappels SA werk saam met verskeie bedryfslui, insluitend saadverskaffers, om die veelsydigheid van die aartappel te demonstreer en wenke te gee oor die beste maniere om dit voor te berei en te geniet.

“Ons nooi almal – van produsente tot verwerkers, media en aartappelliefhebbers – om saam met ons hierdie merkwaardige en veelsydige gewas te vier,” sê Jacobs.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.