Agriculture
Boere het tot einde Junie om lone by Vergoedingsfonds te verklaar─── 07:49 Tue, 27 May 2025

Werkgewers in die landbou word aangemoedig om vroegtydig op hul verklaring en betalings te fokus, veral in ’n tyd waar nakoming en behoorlike rekordhouding van toenemende belang raak vir arbeidswetgewing en versekering.
Volgens Stephan Pietersen van Work Accident Support het boere en ander werkgewers in die landbousektor nog tot 30 Junie 2025 om hul werknemers se lone by die Vergoedingsfonds te verklaar – ’n proses wat oorspronklik op 1 April moes begin, maar weens verskeie vertragings uitgestel is.
Hoewel daar tans sprake is van ’n verdere uitstel tot 31 Julie 2025, is dit nog nie amptelik bevestig nie. Werkgewers word dus aangeraai om te wag vir die publikasie van die nuwe datum in die Staatskoerant voordat hulle op enige uitstel staatmaak.
Verskeie veranderinge aan die verklaarproses geld vanjaar, insluitend die verpligte opdatering van ’n salarisstaat (payroll) en bevestiging van die werkgewer se registrasiebesonderhede op die elektroniese stelsel.
Inkomste wat verklaar moet word:
Werkgewers moet alle normale vergoeding aanmeld, soos:
- Loon of salaris
- 13de tjek of diensbonus
- Vakansiebonusse
- In ’n boerderykonteks: oestoelaes, landelike toelaes, asook die geldwaarde van kos en huisvesting wat aan werknemers voorsien word.
Inkomste wat uitgesluit word:
Sekere vorme van inkomste hoef nie verklaar te word nie:
- Terugbetalings van uitgawes
- Werkgewerbydraes aan mediese fondse en aftreefondse
- Winsdeling aan direkteure
Stappe vir nakoming:
- Kontroleer of enige bedrae tans aan die Vergoedingsfonds uitstaande is.
- Verklaar alle lone vir die huidige siklus en enige wat nog uitstaande is.
- Betaal die rekening binne 30 dae ná verklaring, of doen aansoek vir ’n afbetalingsreëling.
- Verkry ’n brief van goeie stand (letter of good standing).
- Hou dokumentasie van alle verklarings en betalings, aangesien die Departement van Indiensneming en Arbeid se inspekteurs hierdie rekords mag opvra.
OFM Agri cg