Agriculture
Vrystaat Landbou eis geregtigheid ná wrede slagting van vee by Wepener─── 11:28 Thu, 29 May 2025

Vrystaat Landbou (VL) veroordeel die wrede slagting van 13 koeie en vyf kalwers op ’n grensplaas in die distrik Wepener-gebied ten sterkste en dring daarop aan dat die oortreders dringend aan die kaak gestel word.
Volgens Francois Wilken, president van VL, is elf koeie en vyf kalwers boonop Vrydag (23/5) ernstig beseer nadat hulle met spiese aangeval is. Die wapens is later deur die boer en sy veewagters op die oewer van die Caledonrivier gevind.
Die beseerde diere moes dringend behandel word. Die betrokke boer, wie se identiteit weerhou word omdat hy ’n huurder is, het die voorval as traumaties beskryf.
Onaanvaarbare optrede
Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelikeveiligheidskomitee, sê die aanval blyk vergelding te wees. Na bewering het Basotho-burgers hul vee onwettig op die plaas laat wei. Hierdie vee is later met die hulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag teruggeskut oor die grens, waarna die aanval moontlik plaasgevind het.
“Hierdie optrede is totaal ongegrond en onaanvaarbaar,” sê Le Roux. “Misdaad kan nie geduld word bloot omdat grensbeheer gebrekkig is nie.”
Die polisi ondersoek die saak, maar pogings word vertraag deur administratiewe struikelblokke – einsluitend die vertraging van Interpol-magtiging om ondersoeke in Lesotho voort te sit.
VL doen ’n dringende beroep op die regering om hierdie burokratiese vertragings aan te spreek. “Ons verwag van die SAPD om elke leidraad te volg en ’n sterk saak saam te stel sodat die oortreders die volle mag van die wet in die gesig staar,” sê Wilken. “Hierdie saak moet ’n presedent skep vir streng vervolging.”
Die emosionele en finansiële impak op die boer is groot. “Om die wrede slagting van jou diere te aanskou, is ’n verwoestende ervaring – met verliese wat in die miljoene rande beloop,” sê Wilken.
VL het ook ’n beroep op die Ministers van Polisie en Openbare Werke gedoen om dringend ’n 4x4-grenspad in die gebied tot stand te bring. “Boere en hul diere kan nie die teikens bly van kriminele wat vanuit Lesotho opereer nie. Die regering móét optree – ons grensgemeenskappe kan nie aan hul eie lot oorgelaat word nie,” waarsku Wilken.
OFM Agri cg