On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Suider-Afrika se mielievooruitsigte verbeter ná droogtejaar

───   17:10 Sun, 01 Jun 2025

Suider-Afrika se mielievooruitsigte verbeter ná droogtejaar | News Article
Foto: Getty Images

Suider-Afrika se voedselvooruitsigte het merkbaar verbeter in vergelyking met verlede jaar, met besonderse herstel in mielie-oesopbrengste in lande soos Zambië, Zimbabwe en Suid-Afrika.

Wandile Sihlobo, die hoof-ekonoom van landbousakekamer Agbiz, meen hierdie positiewe ontwikkeling sal waarskynlik verdere verligting bring in plaaslike mieliepryse en voedselinflasie demp. Die oes is reeds aan die gang en daar word van goeie kwaliteit verslag gedoen.

Volgens die Zambiese regering word verwag dat dié land se 2024/25-mielie-oes 3,66 miljoen t sal beloop – meer as dubbeld die 1,5 miljoen t van die vorige seisoen. Hierdie herstel is te danke aan gunstige weersomstandighede en voldoende aanplantings. Aangesien Zambië se binnelandse verbruik sowat 2,8 miljoen t is, kan dié land nou weer as ’n netto-uitvoerder van mielies optree.

Hy vertel verder ook in Zimbabwe is die nuus bemoedigend. Alhoewel boere effens minder as verlede jaar geplant het – sowat 1,7 miljoen ha – dui vroeë aanduidings daarop dat die land ’n beter oes as in die 2023/24-droogtejaar sal hê.

Suid-Afrika toon selfs meer optimisme, met ’n verwagte mielie-oes van 14,66 miljoen t – ’n jaarlikse toename van 14%. Dit sluit 7,75 miljoen t witmielies en 6,91 miljoen t geelmielies in. Aangesien die land jaarliks sowat 11,8 miljoen t benodig, sal daar ’n oorskot wees vir uitvoer.

Hierdie herstel dui op ’n positiewe wending vir mielieproduksie in die streek. Veral Zambië – as die tweede grootste produsent ná Suid-Afrika – speel ’n sleutelrol in die voedselvoorsiening van die streek.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.