On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer-uitbreking by Karan Beef wek kommer

───   08:46 Tue, 03 Jun 2025

Bek-en-klouseer-uitbreking by Karan Beef wek kommer  | News Article
Karan Beef se voerkrale by Heidelberg. Foto: Karan Beef/Facebook

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het met kommer gereageer op die nuus dat daar ’n bevestigde geval van bek-en-klouseer (BEK) by Karan Beef se voerkraal in Heidelberg is.

Die maatskappy het gister (2/6) in ’n verklaring bevestig dat die infeksie Vrydag (30/5) opgespoor is ten spyte van streng bioveiligheidsmaatreëls.

“Karan Beef deel met spyt aan sy belanghebbendes en die publiek dat ’n geval van BEK by ons voerkraalfasiliteit in Heidelberg bevestig is. Die infeksie is geïdentifiseer ondanks ons noukeurige nakoming van alle kwarantynprotokolle en deeglike veeartsenykundige inspeksies voor die ontvangs van beeste. 

“Hierdie ontwikkeling beklemtoon die voortdurende risiko’s wat die lewendehawebedryf in die gesig staar, selfs onder streng kontrole.”


Volgens Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die RPO, het Karan Beef intussen besluit om die aankoop van nuwe diere na hul hooffasiliteit tydelik te staak. “Hierdie nuus het verreikende implikasies, veral aangesien Karan Beef die grootste enkele koper van speenkalwers in Suid-Afrika is, met ’n geskatte maandelikse aankoop van 40 000 tot 50 000 kalwers.”

Maré waarsku dat die impak op die mark reeds gevoel word. “Ons is tans in speentyd, en pryse het reeds effens begin daal weens groot aanbod. ’n Skielike afname in vraag van ’n sleutelkoper soos Karan gaan dié tendens vererger.”

Hy sê daar is groot onsekerheid oor hoe die situasie gaan uitspeel. “Karan is ’n reuse-onderneming, en dit is onduidelik of hulle gebeurlikheidsplanne het om alternatiewe fasiliteite of tydelike voerkrale in te span en of hulle vir ’n tyd lank gaan sluit.”

Nog ’n kommer is die moontlike uitwerking op uitvoer. Karan is ’n belangrike uitvoerder, en kleiner voerkrale of abattoirs wat nou van die diere mag aankoop, het dalk nie die nodige uitvoerkontrakte nie. “Daardie vleis sal dan waarskynlik die binnelandse mark betree, wat karkaspryse verder onder druk kan plaas.”

“Karan Beef werk nou saam met die Staatsveeartsenydienste om die siekte vinnig in te perk en risiko’s vir die breër bedryf te beperk. Hulle bly daartoe verbind om aan die hoogste standaarde van dieregesondheid, welsyn en deursigtigheid te voldoen,” sê die maatskappy.

Maré sluit af: “Hoewel bioveiligheidsmaatreëls gevolg word, breek die siekte steeds hier en daar deur. As rooivleisbedryf moet ons dringend nuwe, langtermyn oplossings ondersoek om hierdie wisselvalligheid te verminder.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.