On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou-uitvoer groei sterk in 2025 – Steenhuisen roep jeug op tot aksie

───   09:03 Wed, 04 Jun 2025

Landbou-uitvoer groei sterk in 2025 – Steenhuisen roep jeug op tot aksie | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

Die minister van landbou, John Steenhuisen, verwelkom die merkbare groei in Suid-Afrika se landbou-uitvoere gedurende die eerste kwartaal van 2025, met uitvoere wat US$3,36 miljard beloop het – ’n jaar-tot-jaar styging van 10%.

Dié groei is hoofsaaklik aangedryf deur hoër uitvoervolumes van onder meer druiwe, mielies, appels en wyn, asook gunstige internasionale kommoditeitspryse.

“Hierdie prestasie getuig van die onwrikbare toewyding en durf van ons boere en elke rolspeler in die waardeketting,” sê Steenhuisen. “Landbou is en bly ’n sleutelrolspeler in ons ekonomie en dra betekenisvol by tot Suid-Afrika se handelsbalans.”

Tekens van herstel

Steenhuisen het ook verwys na die nuutste syfers uit Statistieke Suid-Afrika se Kwartaal-Arbeidsmagopname, wat aandui dat indiensneming in primêre landbou met 1% herstel het tot 930 000 poste in die eerste kwartaal van 2025 – veral in die veldgewasse-, wildbedryf- en jagsubsektore. 

Alhoewel jaarlikse werkverskaffing steeds 1% laer is as in 2024, toon dit volgens Steenhuisen tekens van ’n sektor op die herstelpad.

Kardinale belang van jeugdeelname

Met Jeugmaand wat in Junie gevier word, lê Steenhuisen klem op die noodsaaklikheid om jong mense by landbou te betrek. 

“Ons moet ’n passie vir landbou, landboubesigheid en innovasie by die jeug aanwakker. Die toekoms van voedselveiligheid en ekonomiese groei rus op hul skouers.”

Die minister beklemtoon dat jong talent slegs behoue bly as daar volgehoue investering deur die hele waardeketting is. Dit behels onder meer:

  • toeganklike finansiële ondersteuning aan jong agripreneurs;
  • landbou-onderwys van skoolvlak af, insluitend vakleerprogramme en mentorskap;
  • regverdige toegang tot landbougrond en markskakeling;
  • bevordering van tegnologie en innovasie in boerdery; en
  • positiewe narratiewe oor landbou as ’n dinamiese en lonende loopbaanrigting.

‘Energie, vernuwingsvermoë en aanpasbaarheid’

“Ons jong mense se energie, vernuwingsvermoë en aanpasbaarheid is presies wat nodig is om landbou se volle potensiaal te ontsluit,” sê Steenhuisen.

Hy doen ’n beroep op alle belanghebbendes – vanaf die regering en besighede tot onderwysinstellings en gemeenskappe – om saam te werk om ’n omgewing te skep waarbinne die jeug in landbou kan floreer.

Aansoeke vir die Departement van Landbou se beurse vir 2026 is nou oop. Aansoekvorms is hier beskikbaar.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.