Agriculture
Volhoubaarheid en veiligheid onder loep by RPO Vrystaat-kongres─── 08:24 Thu, 05 Jun 2025

Die jaarlikse provinsiale kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat vind vandag in Bloemfontein plaas, met volhoubaarheid, winsgewendheid en veiligheid wat sentraal staan in die gesprekke.
Volgens prof. Andries Raath, vise-voorsitter van die provinsiale organisasie, fokus die kongres daarop om produsente op hul grond te hou “met maksimum wins en produktiwiteit”. Hy het beklemtoon boere is tans onder geweldige druk weens prysskommelinge, veediefstal en die aanhoudende bedreiging van dieregesondheid.
Afgevaardigdes by die RPO Vrystaat-kongres in Bloemfontein. Foto: Isabel van Tonder
“In die Vrystaat is veediefstal ’n endemiese verskynsel. Verlede jaar het produsente tussen R8 en R10 miljoen per maand verloor. Hierdie jaar is dit danksy samewerking met die SAPD en beter data-insameling effens laer, tussen R5 en R6 miljoen per maand – maar onderrapportering bly ’n groot probleem.”
Raath het ook verwys na bek-en-klouseer as ’n ernstige risiko vir produsente. Hoewel die Vrystaat tot dusver gespaar gebly het, wek die onlangse uitbreking by Karan Beef in Heidelberg kommer oor veebewegings en moontlike besmetting. “Dit laat baie vrae ontstaan, veral oor die beweging van vee. So die verwagting is dat ons daaroor gaan gesels met spesifieke fokus op winsgewendheid en hoe om ons produsente by te staan om maksimaal te produseer.”
Die RPO in die Vrystaat se provinsiale kongres vind vandag (5/6) plaas. Foto: Isabel van Tonder
Die kongres het ook ten doel om produsente aan te moedig tot groter deelname. “Kollektiewe betrokkenheid is een van ons grootste uitdagings. Produsente is huiwerig om betrokke te raak. Ons doen ’n beroep op hulle om hul gewig in te gooi sodat ons mikpunte verwesenlik kan word.”
OFM Agri cg