Agriculture
Landboudepartement verkry bykomende entstof teen voëlgriep, bek-en-klouseer─── 07:47 Fri, 06 Jun 2025

Suid-Afrika het pas sy eerste massa-inentingsveldtog teen voëlgriep van stapel gestuur en die landboudepartement het ook honderdduisende inentings teen bek-en-klouseer bestel.
Luidens ’n verklaring van John Steenhuisen, die minister van landbou, is ’n span hoenderspesialisveeartse van die Universiteit van Pretoria en die Landbounavorsingsraad aan die stuur van die veldtog. Hoërisiko-areas en kommersiële plase word eerste geteiken. “Ons het entstowwe verseker, kouekettingkapasiteit in plek, en stelsels vir naspeurbaarheid en verslagdoening as deel van ’n breër paraatheidstrategie,” het Steenhuisen gesê.
Vyftig dieregesondheidstegnici is op korttermyn aangestel om die proses te ondersteun, met opleiding wat volgende week begin.
Die bedryf het lank reeds gemaan gevaarligte flikker rondom die land se voorbereidheid vir ’n voëlgriepuitbreking wat wetenskaplikes meen net ’n kwessie van tyd mag wees. ’n Vorige uitbreking in 2023 het die bedryf lamgelê.
Meer as 30% van Suid-Afrika se pluimveekuddes is uitgeskakel, wat die bedryf sowat R9,5 miljard gekos het en tot meer as 1 300 werksverliese in die formele sektor gelei het, met ’n verdere impak op die informele mark.
Bek-en-klouseer: entstowwe bestel, nuwe gevalle ondersoek
Die departement het intussen meer as 900 000 entstofdosisse vir bek-en-klouseer bestel, veral vir KwaZulu-Natal. Naspeuring na die oorsprong van die uitbreking in Gauteng duur voort. Steenhuisen beklemtoon permanente biosekuriteitstrukture word tans geskep, insluitend ’n nasionale naspeurstelsel “van plaas tot bord” en die stigting van ’n Biosekuriteitsraad met rolspelers soos die polisie, grensowerheid, wetenskaplikes en die bedryf.
Die minister het Karan Beef geloof vir hul vinnige en deursigtige optrede nadat die siekte by hul voerkraal in Heidelberg bevestig is. Die maatskappy werk saam met staatsveeartse om verdere verspreiding van die virus te beperk.
KwaZulu-Natal, Mpumalanga en handelsimpak
Aktiewe virusirkulasie duur voort in sekere dele van KwaZulu-Natal se siektebestuursgebied. In Mpumalanga, waar bek-en-klouseer in April op een plaas opgespoor is, toon met eerste rondtes monitering geen verdere verspreiding nie. China het egter alle uitvoer van gesplete hoefdiere en hul produkte uit Suid-Afrika opgeskort, hoewel verwerkte wol nie geraak word nie.
Veeboere landwyd word versoek om alle dierebewegings tot die minimum te beperk, en diere van onbekende oorsprong vir minstens 28 dae te isoleer – selfs met ’n gesondheidsverklaring. Die departement herinner aan sy wettige mandaat ingevolge die Dieresiektewet om uitbrekings te voorkom en te beheer.
Enige verdagte simptome soos oormatige speeksel, blase of mankheid moet onmiddellik aan ’n staatsveearts gerapporteer word.
OFM Agri cg