Agriculture
Vrystaatse landboudepartement waarsku boere teen kouefront en sneeu─── 13:47 Mon, 09 Jun 2025

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling doen ’n dringende beroep op boere en landbougemeenskappe om voorbereid te wees op koue weerstoestande wat vanaf vandag tot en met Sondag (15/6) verwag word.
Luidens ’n waarskuwing van die Suid-Afrikaanse Weerdiens hou ’n kouefront vanweë ’n afsnylaagdrukstelsel sneeuval in vir veral die suidoostelike dele van die Noord-Kaap en die westelike en suidelike dele van die Vrystaat.
Die sneeu sal waarskynlik matig wees, maar kan bergpasse en grensroetes beïnvloed. Die LUR vir Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake, Elzabe Rockman, sê boere moet onmiddellik voorsorg tref.
Foto ter illustrasie: capetownetc
“Ons is ernstig bekommerd oor die gevare wat dié weerstoestande inhou, veral vir boere en hul gemeenskappe. Ek doen ’n beroep op alle boere om hulself, hul vee en oeste te beskerm teen die koue, veral aangesien die veldbrandseisoen pas begin het.”
Rockman het ook gewaarsku teen die gebruik van vuur as verhitting of kookmiddel in onveilige toestande. “Moet asseblief nie vure maak in winderige toestande nie, moenie vure sonder toesig laat nie en maak seker vure is behoorlik geblus.”
Die departement sê die toenemende voorkoms van rampe soos veldbrande, sneeuval, droogtes en vloede hou ’n ernstige risiko vir die landbousektor én voedselsekerheid in.
OFM Agri mvh