Agriculture
Olifantshoekboer aangewys as klimaatslim ambassadeur─── 14:44 Tue, 10 Jun 2025

Willie Storm, ’n bekende kommersiële vleisbeesboer van die Olifantshoekomgewing is aangewys as die 2025 Veeplaas- klimaatslim ambassadeur. Op sy hakke volg Stephan Becker, nóg ’n boer van die Noord-Kaap, wat as naaswenner aangekondig is.
Storm is bekend vir sy passie vir veldbestuur, die beheer van bosindringing, en sy toewyding om klimaatslim praktyke op sy plaas toe te pas.
“Dis maar ’n geval van jy moet hierdie ding begin, glo aan dit, asook die proses en jy moet jouself motiveer, want dit is nie ’n maklike proses nie. Goeie jare moet jy tot jou voordeel gebruik om vorentoe te gaan.”
Hy glo om nie produksie na te jaag in tye wat dit ‘abnormaal goed gaan’ nie, maar om eerder konserwatief te wees met weidingsbestuur.
“Dis maar ’n versoeking om lekker vet en swaar diere te hê en nie die veld langer te laat rus nie. Dis deel van die kopskuif wat ek moes maak.”
Uiterste klimaatsomstandighede en onbestendigheid het Storm geleer hoe om voortdurend aan te pas en te beplan. “Ons boer in ’n semi- woestyn; die reënval is ongelooflik wisselvallig.
‘Volgehoue studie is die beste leerskool’
“Ek het eers Maart my eerste reën gehad; vyftien kilo's van hier af het die ouens al Desember honderd plus millimeter gehad. Dis die realiteit waarmee ons sit en ek dink nie dit gaan verander nie.”
Sy boodskap aan ander veeboere is om die veld so goed as moontlik te kry dat dit in ’n klimaksfase is. “Dan het jy letterlik ’n maand nodig as jy voldoende reën kry vir jou veld om volledig uit te groei.”
Storm meen ook volgehoue studie is die beste leerskool. “Jy is nooit te oud om te leer nie. Jy leer elke dag, al is dit met ouens wat jou kom besoek. Een ou in ons studiegroep het altyd gesê, ‘Jy weet, al sien jy net wat jy nie moet doen nie, dan het jy ook baie geleer.”
Fokus op grondgesondheid
Becker, wat naby Upington boer, meen klimaatslimboerdery begin met die grond. “Grond is die basis van die ekosisteem. “Ons bestuur grond deur om diere te roteer. Ons praat van die gras-herbivoor-roofdief-konsep, waarin ons as mens basies die rol van die roofdier oorgeneem het.”
Hy verwys na die voorbeeld van die Serengeti waar ’n klomp leeus ’n massiewe trop buffels oor die gras skuif. “Hulle vreet die gras, hulle mis en urineer en dit word opgeneem as deel van die ondergrondse voedselnetwerk wat weer graslewe vir die toekoms ondersteun.”
Gesien in hierdie konteks verduidelik Becker daar waar hy boer dat hy nie 500 koeie elke ses ure kan skuif nie, maar slegs elke twee weke. Sy kampe is egter heelwat groter as byvoorbeeld ’n plaas in die Oos-Vrystaat.
‘Ons probeer die inseklewe ook oplig’
“Ek vermy oorbeweiding wat meer ’n funksie van tyd as getalle is. Ek het groot troppe diere wat ek roteer deur ’n sisteem om my grond humus op te bou sodat ek meer weerstandig kan wees teen die droogtes.”
Verder kyk hy ook na biodiversiteit. “Ek vestig nie sommer nuwe grasspesies nie.
“Ons probeer die inseklewe ook oplig want, hulle is tog half die drywers van fertiliteit in ’n ekosisteem. So daar is geen vegetariese ekosisteem nie, net ekosisteme wat deur diere gedryf word.”
Veeplaas- klimaatslim ambassadeurprojek
Dis vanjaar die vierde keer wat die Veeplaas- klimaatslim ambassadeurprojek aangebied word. Dis daarop gemik om erkenning te gee aan veeprodusente wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas.
Voormalige wenners van die projek is James Faber (2022), Piet Roux (2023) en Charl Saunderson (2024).
‘Boerderypraktyke vanuit ses hoeke beskou’
“Hierdie boere is nie net klimaatslim nie, maar is ook bereid om hul unieke kennis met ander veeprodusente te deel,” lui Plaas Media se verklaring.
Soos in vorige jare, moes die deelnemers ’n vraelys op agriorbit voltooi wat hul boerderypraktyke vanuit ses hoeke beskou. Die deelnemers se antwoorde is op ’n skaal van een tot tien gegradeer, waarna die antwoorde, sowel as die puntetoekenning oorweeg is, en die finaliste gekies is.
Dr. du Pisani het toe die plase besoek en die boerderypraktyke noukeurig geïnspekteer.
OFM Agri mvh