On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: RMIS wiele draai, entstowwe nog op pad

───   ELZETTE BOUCHER 06:09 Fri, 13 Jun 2025

Bek-en-klouseer: RMIS wiele draai, entstowwe nog op pad | News Article
RMIS-hoofbestuurder Dewald Olivier doen sy voorlegging by die RPO Noord-Kaap se kongres. Foto: OFM

“Ons moet die ysters smee terwyl dit warm is.”

Só sê Dewald Olivier van Red Meat Industry Services (RMIS) tydens die RPO se jaarkongres in Kimberley, terwyl hy ’n beroep op die rooivleisbedryf gedoen het om daadwerklik saam te werk aan ’n volhoubare strategie teen bek-en-klouseer (BKS).

Olivier het verwys na die uitbreking by Karan Beef en die enorme koste van die huidige situasie. “Hulle is besig met naspeuring om vas te stel waar die besmette diere vandaan kom. Maar die groter krisis is dat iemand daagliks R700 000 se voer moet betaal vir 120 000 diere – dít is die prioriteit.”

Hy het bevestig dat daar steeds geen entstof in die land is nie. “Ons hoor telkens die entstof is op pad – dit sou laas Dinsdag hier wees, maar nou praat ons van einde Junie.” Hy het aangedui dat ’n strategie-dokument opgestel word wat met die hele bedryf gedeel gaan word. Die doel is om saam met die regering op te tree, sonder om die verantwoordelikheid heeltemal te verskuif. “Ons skop elke keer die bal terug na die regering toe. Moenie verbaas wees as die regering optree soos die regering nie – hulle is nie boere nie.”

Geen plek vir ’n ’shotgun approach’

Olivier waarsku ’n oorhaastige massa-inentingsveldtog is nie realisties is nie. “Ons kan nie die hele land onmiddellik inent nie. ’n Stoetboer kan nie ent nie. Ons het ’n strategiese, slim plan nodig. Nie ’n shotgun approach nie.”

Hy pleit vir nasionale eenheid, samewerking met die owerhede en spesifieke, gesamentlike aksie. “Ons kan nie net hier onder mekaar brom en WhatsApps stuur en vloek en skree en sê die regering wil ons nie help nie.”

Dewald Olivier praat met produsente by die kongres in Kimberley. Foto: OFM

“Ons het ’n internasionale mediamaatskappy aangestel om te verduidelik dat die variant van die siekte wat in Suid-Afrika voorkom nie dieselfde is as die tipe in Amerika en Europa wat diere doodmaak nie, want ons word telkens oor dieselfde kam geskeer.

“Kom ons gaan buitentoe en vertel vir die wêreld dis hoe ons lyk, dis wie ons is en dis wat ons kan doen. Hulle weet nie wat ons doen nie, want ons sê nie vir hulle nie.”

Operasionele sentrum in volle swang

Die eerste fase van die RMIS se operasionele sentrum is reeds in werking. Dit sluit ’n netwerk van 177 privaatveeartse in wat terugvoer gee oor BKS-gevalle. Die tweede fase, wat Maandag begin, behels dat ’n veearts by RMIS aangestel word om hierdie data te bestuur en onmiddellik op die beweging van diere te reageer. Hier sal produsente ook betrek word om oë en ore op die grond te wees.

’n Onlangse voorval dien as voorbeeld: “’n Man van KwaZulu-Natal het probeer om beeste by veilings af te laai, maar oral is hy gestop – danksy inligting wat vooraf gedeel is. Toe hy terugkeer, het die polisie op hom gewag.”

“Ons is op ’n verskriklike goeie plek waar ons verandering in ons bedryf kan bewerkstellig. Ons het baie guns van topstrukture af om sekere dinge te implementeer en in plek te sit wat ons nooit voorheen gehad het nie. Ons moet die ysters smee terwyl dit warm is en dis nou die tyd.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.