Agriculture
Bek-en-klouseer: Doen als moontlik om jou kudde te beskerm─── 17:51 Tue, 17 Jun 2025

Die huidige uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika plaas die bedryf al verder onder druk. Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO meld daar is bykans daaglikse bevestiging van nuwe gevalle.
Ook Karan Beef het intussen bevestig al drie hul groot voerkrale het positief vir die siekte getoets.
Verskeie ander fasiliteite wag nog op toetsuitslae, maar die situasie lyk reeds beroerd. “Ons word oorval met vrae oor biosekuriteit. Almal sê hulle het protokolle, maar tog breek die siekte uit. Hoe gebeur dit?”
Streng toegangbeheer
Hy wys daarop dat bek-en-klouseer ’n hoogs aansteeklike siekte is wat dikwels eers by slaggereed diere manifesteer – diere wat reeds drie tot vier maande in die stelsel is. “Dit beteken dis nie nuwe aanwinsdiere wat die virus ingebring het nie.
“By Karan Beef staan diere tot 35 dae in houstasies voor hulle eers na die voerkraal gaan.” Die vraag ontstaan dus: hoe het die virus dan toegang gekry tot die kraal?
Maré noem dat toegang streng beheer word en dat voertuie, mense en toerusting ontsmet word. “Personeel beweeg selfs deur alkaliese sproeibaddens,” sê hy.
Tog is die risiko’s legio. Krale is dikwels naby kommersiële én kleinskaalse produsente geleë. Daar is ook die moontlikheid dat stofdeeltjies of selfs wilde diere die virus oordra.
“Gesplete-hoefdierwild kan naby grensdrade beweeg. Die oordragkanale is veelvoudig.”
Die ekonomiese impak is verwoestend. “Dierestapels word onder kwarantyn geplaas, niks mag geslag word nie, maar die diere moet steeds gevoer word – met geen inkomste.”
‘Hierdie virus is slinks, aanpasbaar’
Hy maan produsente om alles moontlik te doen. “Ons almal ken die reëls – ontsmetting, toegangbeheer, kwarantyn.
“Dit bied groot beskerming, maar niks is 100% nie. Hierdie virus is slinks, aanpasbaar en kan op baie maniere versprei.”
Maré se boodskap is duidelik: Biosekuriteit bly krities, maar die bedryf moet besef dat selfs die beste maatreëls nie ’n absolute waarborg teen besmetting bied nie.
OFM Agri mvh