Agriculture
John Deere se nuwe vul is ’n bul!─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Mon, 23 Jun 2025

“Hierdie is nie net ’n nuwe trekker nie – dis ’n nuwe manier om spore te los.” Só het Hein Snyman, streeksprodukspesialis van John Deere, gesê tydens die Senwes Equipment-demonstrasiedag waar die indrukwekkende 9RX 830 in die veld gewys is.
Snyman het verduidelik dat die 9RX-reeks met ’n enkele doel ontwerp is: maksimum produktiwiteit. “Ons het hom van voor tot agter, bo tot onder, heeltemal nuut ontwerp – en alles is daarop gemik om meer perdekrag op die grond te kry as enige ander trekker in die bedryf.”
Belegging in produktiwiteit vir ’n nuwe klasleier
Die 9RX 830 is die vlagskip van die reeks, wat begin by 710 pk en strek tot 830 perdekrag, met die vermoë om tot 913 perdekrag op die grond oor te dra.
“John Deere het nie opgehou innoveer nie. Ons belê daagliks in tegnologie sodat boere toegang het tot die beste oplossings in die mark.”
@ofm.agri John Deere se nuwe vul is ’n bul! By Senwes Equipment se demo dag in die Vrystaat vertel streeksproduksiespesialis Hein Snyman meer oor John Deere se mees gevorderde trekker nog – die 9RX 830 wat ontwerp is om aan die uitdagings van grootskaalse landbouproduksie in korter tydsvensters te voldoen.#JohnDeere9RX830 #ItsGrowTime #NothingRunsLikeADeere #Vrystaat #JohnDeere #fyp #OFMAgri #Senwes @johndeere @ofm9497 ? original sound - OFM Agri
Stephan Gouws, besturende direkteur van John Deere Suid-Afrika, het bevestig dat meer as $2 miljard in dié tegnologiese platform belê is. “Dis wat ons vandag hier sien. Die resultate wat ons van daai lyn kry, is ongelooflik. Ons het nie net in produkte belê nie, maar in die toekoms van boerdery.”
Die kern van die 9RX 830 is ’n splinternuwe 18-liter John Deere-enjin, spesifiek vir landboutoepassings ontwerp – nie aangepas uit industriële enjins nie.
“Dis ’n enjin vir boere, gebou deur John Deere,” sê Snyman. Die trekker is verder toegerus met ’n nuwe E21-transmissie, wat doeltreffendheid en ekonomie balanseer, selfs onder uiterste werkstoestande.
Azer Nel (boer wat trekker getoets het), Debbie Bester (Senwes HUB), Ferdie Pieterse (Senwes Equipment) en Hein Snyman (John Deere) by die demodag van die 9RX 830 trekker naby Wesselsbron. Foto: OFM
Gebou vir diensbaarheid en tydsbesparing
Volgens Snyman is gebruikersgemak en diensbaarheid kernfokusareas. Die enjinkap is maklik oopmaakbaar, die lugfilter is laer geplaas vir vinnige toegang, en die trapontwerp is verbeter vir makliker toegang tot die kajuit.
Met die Fast Fill-opsie kan die brandstoftenk van 1 952 liter in net 2 tot 4 minute volgetap word – teenoor die tradisionele 30 tot 40 minute. “Dis tyd wat jy terugwen om weer hektare op die grond te sit.”
Die kajuit is sowat 20% groter, met ’n verstelbare sitplek wat tot 34° na regs kan draai vir beter uitsig op implemente.
Tegnologie van bo tot onder
Die 9RX 830 bevat John Deere se eie presisietegnologie: die G5 Plus-skerm, StarFire 7000 GPS-ontvanger en volle integrasie met JDLink™-plaastegnologie. “Ons gebruik nie derdeparty-tegnologie nie – alles is John Deere, gebou vir John Deere.”
Op hidroliese vlak is dit net so indrukwekkend: boere het die keuse van een, twee of drie pompe, met ’n maksimum vloei van 635 liter per minuut. “En ja – daai olie bly koud,” het Snyman bygevoeg. “Ons het die verkoelers daarvoor.”
Sowat 300 boere het die dag kom bywoon. Foto: OFM
‘Monster’ in die veld getoets
Azer Nel van die plaas Soetlaagte naby Wesselsbron het die trekker vir ’n week getoets. Hy beskryf dit as “’n monster”.
“Ek het die eerste dag ingeklim en begin kyk wat hy kan doen. Dis ongelooflike krag – en teen lae revolusies. Dit gaan beslis help met dieselverbruik.”
Met sy 38 ton gewig en vier volspoorbande (tracks) sit die 9RX 830 “al sy krag op die grond neer”.
Nel het ook hul lang pad met tegnologie én Senwes beklemtoon. “Van ons eerste trekkers tot waar ons nou staan, is dit ongelooflik om te sien hoe die tegnologie gevorder het. Julle gee ons die geleentheid om te kan boer.”
Die John Deere 9RX 830 word van nader beskou voordat belangstellendes self kon inklim. Foto: OFM
Senwes: ’n Vennoot vir die pad vorentoe
Ferdie Pieterse, besturende direkteur van Senwes Equipment, het produsente aangemoedig om saam met Senwes “nuwe spore” te los – die maatskappy se nuwe slagspreuk.
“Ons het die grond oopgebreek. Nou is dit tyd om nuwe spore daarop te maak – saam met julle, ons boere. Ons het net een begeerte: om vir julle te help, so goed en so vinnig as wat ons kan.”
Senwes is ook aangewys as John Deere se 2024-handelaar van die jaar. “Die investering wat hulle maak in ons besigheid is fenomenaal. Ons is trots om vennote te wees,” het Gouws gesê.
Die dag se kernboodskap was duidelik: tegnologie is nie ’n luukse nie – dis ’n noodsaaklikheid.
“Moenie agter raak met tegnologie nie,” het Gouws gewaarsku. “As jy agter raak, is dit amper onmoontlik om op te vang. Jou grootste mededinger is dalk nie die regering nie, maar jou buurman wat meer produktief en effektief boer.”
OFM Agri cg