Agriculture
Noordwes BKS: Boere aangemoedig om waaksaam te bly─── 07:00 Mon, 30 Jun 2025

Die uitbreking van bek- en klouseer (BKS) in Noordwes is steeds beperk tot die plaaslike munisipaliteite waar dit oorspronklik bevestig is, hoewel die siekte binne die Ventersdorp-omgewing ook nou na nabygeleë plase versprei.
Volgens die provinsiale landboudepartement het diere op hierdie plase tipiese kliniese simptome getoon en positief getoets op grond van weefselmonsters.
Die departement versoek veeboere om waaksaam te bly en streng by die regulasies in die Staatskoerant te hou, wat noodsaaklik is om biosekuriteit te versterk en verdere verspreiding van die virus te beperk.
“Die veterinêre gesamentlike operasionele sentrum vergader gereeld om ’n geteikende beheer- en moniteringsprogram te koördineer. Monsterneming is begin op plase binne ’n radius van 10 km van die uitbrekingsgebied om moontlike serologiese reaksies in simptoomvrye diere op te spoor,” lui ’n verklaring van die departement.
Verder sal ’n aanvangsvoorraad van 30 000 entstofdosisse vanaf 2 Julie 2025 toegedien word, met bevestigde positiewe plase wat eerste aandag geniet. “Geënte diere sal onder streng beheerde toestande geslag word, wat sal help om stabiliteit in die plaaslike vleisvoorsieningsketting te herstel.”
Veterinêre spanne volg streng biosekuriteitsprotokolle, waaronder die ontsmetting van bande, skoene en toerusting, sowel as ’n verpligte drie-dae-interval tussen plaasbesoeke om oordrag tussen plase te voorkom.
Die provinsiale rampbestuursentrum is geaktiveer en sluit rolspelers soos die polisie, verkeer en georganiseerde landbou in. “Samewerking tussen hierdie instellings is van kardinale belang vir doeltreffende beheer, en alle lede beskik nou oor kritieke kontakbesonderhede vir vinnige koördinering.”
Die departement bedank alle rolspelers – insluitend georganiseerde landbou, individuele boere en ondersteuningsinstansies – vir hul samewerking gedurende hierdie kritieke tyd.
Enige tekens van BKS moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word. Diere met gesplete hoewe soos beeste, varke, skape, bokke en sekere wildspesies is vatbaar. Simptome sluit in koors, mankheid en blase of sere in die bek, op pote en om spene.
OFM Agri cg