On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

NWK fokus ook op gemeenskapsprojekte

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 07 Jul 2025

NWK fokus ook op gemeenskapsprojekte | News Article
NWK-hoofkantoor in Lichtenburg. Foto: NWK

NWK doen talle gemeenskapsprojekte en leef só die maatskappywaardes uit ten opsigte van verbeterings en opheffings in die werksplek en gemeenskap.

“Een van die maatskappywaardes is medeverantwoordelikheid in die werksplek en gemeenskap en dis presies waarop ons fokus met al die projekte wat ons doen,” sê Johan Bezuidenhout, groepsbestuurder Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie van NWK.

NWK het onlangs ’n droom vir Hoërskool Lichtenburg verwesenlik deur vir hulle ’n astrohokkiebaan by die skool te bou. As die grootste werkgewer in Lichtenburg het die skool NWK genader vir hulp en bystand.  Die sport het oor die jare baie verander op so 'n wyse dat deelname op provinsiale vlak vereis dat daar op 'n Astro baan gespeel word. Die skool befonds die projek op verskeie maniere soos deur donateurs, 'n landbou projek waar produsente insette soos kunsmis en saad ontvang het om mielies en sonneblom te verbou wat by die silo's gelewer word teen die skool se leweringsrekening.  

NWK se nuwe padskraper. Foto: NWK

“NWK het ook besef die dorp ly onder gebrekkige infrastruktuur en dit het nodig geraak vir hulle om te investeer in die opheffing van die dorp en die verbetering van fasiliteite. Dit is deel van NWK se DNS en doelwitte om opheffing te doen en dit maak sin om Lichtenburg te prioritiseer,” sê Bezuidenhout.

Padelbane by Lichtenburg Gholfklub

Padel is die wêreld se vinnigste groeiende sportsoorte en dit word in meer as 100 lande gespeel met meer as 30 miljoen mense wat die sport beoefen. NWK het besluit om ook hier betrokke te raak aangesien die gholfklub die terrein beter wou benut. 

Daar is ook ander dissiplines wat hulle op die opgegradeerde terrein wil vestig. Aksiesokker, rolbal en selfs jukskei word in die vooruitsig gestel. Die padelbane is op 23 Mei vanjaar amptelik ingewy.

Wees op die uitkyk vir die geel masjiene in ons gebied’

“In 2021 het NWK ’n memorandum van verstandhouding met die Noordwes-regering se departement van openbare werke, paaie en vervoer onderteken. NWK het hulp aangebied om die provinsie se paaie meer begaanbaar te maak. 

“Paaie word nie net deur produsente gebruik wat graan by silo’s lewer nie, maar ook deur plaaswerkers en skoolkinders wat daagliks hierop vervoer word,” sê Bezuidenhout. Sowat 900 km is reeds geskraap en hulle het onlangs hul eie padskraper en padroller aangeskaf. 

NWK se nuwe padroller. Foto: NWK

Paaie is reeds geskraap in die omgewing van Boons, Stella, Excelsior, Migdol, Kameel, Delareyville, Barberspan, Coligny, Lichtenburg en Grootpan.

Skoolskoene uitgedeel om Jeugmaand te vier

NWK het Jeugmaand gevier deur meer as 550 splinternuwe pare skoolskoene by twee skole in Itsoseng naby Lichtenburg uit te deel. Sedert die ontstaan van die projek het meer as 6 500 leerlinge al by die projek baat gevind. 

Die waarde van vanjaar se skenking beloop ongeveer R243 000 wat skoolskoene, skoenpolitoer, borsels, mussies, kouse en seilsakkies insluit. “Deur die jare het dié projek nederigheid en dankbaarheid by hom gekweek,” sê Bezuidenhout.

Ystermankompetisie vir die manne met murg in hul pype

Die Ystermankompetisie word gedryf deur die NWK hoof- finansiële beampte, Alf White. “Die direksie en bestuur het dit goedgedink om self aan die Ystermankompetisie deel te neem en personeel uit te daag om teen hulle te kompeteer. 

“Dit is die karakter wat NWK wil uitleef om doelwitgedrewe te wees ten spyte van terugslae en gedissiplineerd hul persoonlike en maatskappydoelwitte na te jaag,” sê Bezuidenhout. D-dag vir die Ystermankompetisie is 16 November in Mosselbaai. 

Daar is drie dissiplines, naamlik 1 900 m swem in die oop see, 90 km fietsry en 21,1 km draf. Daar is tans meer as 70 inskrywings en deelnemers moet hulself ook verbind tot die fondsinsameling ten bate van Agri Securitas. Die teikenbedrag vir die fondsinsameling is een miljoen rand. 

Ystermankompetisie. Foto verskaf/NWK

“Wanneer jou veiligheid en sekuriteit bedreig word, is dit so maklik om te vlug. Dit is vir ons belangrik dat ons kliënte kan aanhou produseer. 

“Deur Agri Securitas se hande sterk te maak word landelike gemeenskappe en boerderye bemagtig om beter beheer te kry oor veiligheid en sekuriteit en daarom het ons besluit op Agri Securitas as begunstigde,” sê Bezuidenhout. NWK het dié inisiatief geregistreer onder givengain.com

Besighede en persone wat skenkings wil maak, kan direk op die platform bydra onder die verwysing “Ysters vir Landbou” by https://www.givengain.com. Enige persoon of maatskappy wat die inisiatief wil ondersteun, kan gerus www.nwk.co.za en www.agrisecuritas.org besoek.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.