Agriculture
Groot pryse te wen in Toyota-kompetisies─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 08 Jul 2025

Groot pryse is te wen in die Toyota New Harvest-kompetisie wat hierdie jaar vir die 17de keer aangebied word. Die doel van die kompetisies is om uitnemendheid in boerdery te erken en te beloon.
Hierdie jaar word die Toyota New Harvest-kompetisie vir die 17de keer aangebied en die Toyota Communal Association-kompetisie vir die 4de keer.
Die New Harvest-kompetisie is gemik op individue wat vyf jaar of langer ’n plaas besit of bestuur het en wat uit ’n voorheen benadeelde agtergrond kom. “Die doel van beide kompetisies is om uitnemendheid in boerdery te erken en te beloon,” sê Prof. Carlu van der Westhuizen, sameroeper van die span beoordelaars en tegniese adviseur vir Toyota SA in hierdie kompetisies.
Die Communal Association-kompetisie is gemik op groepe wat uit minstens vyf persone bestaan wat drie jaar of langer boer en ’n suksesvolle boerderygroep geword het.
“Daar is hierdie jaar groot pryse op die spel en die wenner van die New Harvest-kompetisie kan ’n nuwe Toyota Hilux-bakkie wen, asook kontantpryse. Die wenner van die Communal Association-groep kan R300 000 se landbou-insette, wat in hulle boerderye gebruik kan word, en ook kontantpryse deur Toyota SA geborg, wen,” sê Van der Westhuizen.
Daar is min tyd om deel te neem aan hierdie kompetisies en deelnemers word genooi om ’n e-pos te stuur aan Van der Westhuizen by carluvdw@mail.com of om hom te skakel na 083 445 2662 vir verdere besonderhede. Die wenners sal op 26 November 2025 in Gauteng aangekondig word.