On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Vrystaat Landbou waarsku oor biosekuriteit ná Kroonstad-geval

───   07:55 Tue, 15 Jul 2025

Bek-en-klouseer: Vrystaat Landbou waarsku oor biosekuriteit ná Kroonstad-geval | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

Die eerste bevestigde geval van bek-en-klouseer in die Vrystaat is by ’n kommersiële boer in die Kroonstad-distrik (Moqhaka) aangeteken, en Vrystaat Landbou roep alle produsente op tot verskerpte biosekuriteit.

Volgens Isabel Kruger, Vrystaat Landbou se veiligheidsverteenwoordiger, is die betrokke kudde reeds op 8 Julie ondersoek, waarna die plaas onder kwarantyn geplaas is. “Die diere is geïsoleer, daar het niks in of uit gegaan nie. Die eienaar het bevestig dat alle maatreëls nagekom is.”

Die staatveearts het bevestig dat ondersoeke steeds aan die gang is om die oorsprong van die infeksie te bepaal. Intussen is alle plase binne ’n 10 km-radius van die besmette plaas onder voorsorgkwarantyn geplaas en van die nodige dokumentasie voorsien.

“Die vraag is of daar ’n verbod op dierevervoer in die Kroonstad-gebied is? Die antwoord is nee, behalwe vir diere in die kwarantyngebied. Geen beweging van diere na of van daardie area word toegelaat nie.”

Sy verduidelik verder dat enige boer wat nie in kennis gestel is nie, die departement kan kontak om bevestiging en dokumentasie te kry. Vir ander boere buite die kwarantyngebied is vervoer wel toegelaat, mits die regte dokumente in orde is.

“Elke vervoer moet vergesel word van ’n Artikel 8-vorm as jy nie die eienaar van die dier is nie, sowel as ’n gesondheidsverklaring. Eienaars moet hul brandmerksertifikaat kan toon. Die SAPD en verkeersbeamptes kan jou aanspreeklik hou en die boetes ingevolge die Wet op Dieregesondheid is buitensporig hoog.”

Sy het beklemtoon bek-en-klouseer moet nie ligtelik opgeneem word nie. “Elke landbouer moet nou self verantwoordelikheid neem en sy plaas se biosekuriteit versterk. Dis nou nie die tyd om te sê ‘dit sal nie met my gebeur nie’.”

‘Daar is voldoende inligting en ontsmettingsmiddels beskikbaar’

Kruger het boere aangemoedig om toegang tot hul plase te beheer en te verseker dat voertuie ontsmet word voordat hulle toegang verkry. “Daar is voldoende inligting en ontsmettingsmiddels beskikbaar en op sosiale media word gereeld riglyne gedeel.”

Vrystaat Landbou sal verdere inligting bekend maak sodra dit beskikbaar is.

Intusen het die departement van landbou in die Vrystaat laat weet inentings op die besmette plaas het op 11 Julie begin om die viruslading te verminder en verdere sirkulasie te beperk.

Boere, afslaers en spekulante se samewerking gevra

In ooreenstemming met Staatskoerant No. 51512 van 13 Junie 2025 en die Wet op Dieregesondheid (Wet 35 van 1984), doen die departement ’n beroep op alle boere, afslaers en spekulante om:

  1. Die beweging van gesplete hoefdiere streng te beperk;
  2. Biosekuriteitsmaatreëls na te kom, insluitend die ontsmetting van voertuie en toerusting;
  3. Nuutaangekope vee vir minstens 28 dae te isoleer voor integrasie;
  4. Goeie rekords van alle dierbewegings en plaasbesoeke te hou;
  5. Enige verdagte gevalle – soos oormatige speeksel, mondseer of mankheid – onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aan te meld.

“Ons kan die verspreiding van hierdie siekte heeltemal stuit as ons saamwerk,” het die departement gesê. “Dankie aan elkeen wat help om die Vrystaat se veesektor te beskerm.”

OFM Agri/Johan Gunter cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.