On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Groep veg om ‘natuur se skoonmakers’ te bewaar

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 17 Jul 2025

Groep veg om ‘natuur se skoonmakers’ te bewaar | News Article
Aasvoëls is noodsaaklik vir menslike gesondheid en die bewaring van die natuur en omgewing.

Aasvoëls is broodnodig, ook in die Noord-Kaap, om ’n gebalanseerde omgewing en ekosisteem te verseker.

Die organisasie Vulture Sentinels in die Noord-Kaap stel dit hulle ten doel om aasvoëls te beskerm, te rehabiliteer en te red  en navorsing te doen oor dié belangrike roofvoël waarvan die rol dikwels misverstaan word. 

“Die aasvoël is ’n bedreigde roofvoël. Moontlik die grootste rede daarvoor is kragdrade; hulle hou van hoogte en gaan sit dikwels op die drade of vlieg daarin vas, veral in die Noord-Kaap. Vergiftiging is ook ’n groot probleem en dit kan maklik gebeur dat ‘n massa voëls op een slag vergiftig word omdat almal aan een karkas vreet. 

‘Ons het ook besef dat aasvoëls deur lood vergiftig word’

“Ons het ook besef dat aasvoëls deur lood vergiftig word. Nuwe navorsing bewys dat die lood wat sommige jagters gebruik, dikwels die karkas en die voëls vergiftig. Dit is veral die geval met die aasvoëlrestaurante waar boere eintlik goed doen, maar soms het die aas slegte gevolge,” sê Charles Hall van Vulture Sentinels in die Noord-Kaap.

Ander gevare vir dié besondere voëls is ‘n verlies aan habitat en kos, menslike aktiwiteite in hul gebied en stroping vir tradisionele medisyne.





Die logo van Vulture Sentinels.

Die lede van Vulture Sentinels sluit in jagters, boere, navorsers en mense wat diere rehabiliteer en reddingsoperasies uitvoer. Die organisasie doen deurlopend deeglik navorsing oor die habitat en gewoontes van hierdie voëls en stel hulle dit ten doel om nie net die voëls te bestudeer nie, maar hulle ook te leer ken, te hanteer en te red en te veg vir hul voortbestaan. 

Daar is nege aasvoëlspesies in Suid-Afrika. Aasvoëls jag nie lewende diere nie, maar maak staat op hul uitstekende sig om die karkasse van diere vanuit hoog in die lug op die grond waar te neem.

Volgens Julius Koen, valkenier van Kimberley wat oor ’n permit beskik om beseerde roofvoëls te rehabiliteer, kan ’n hele bevolking hoogs bedreigde voëlspesies uitgewis word weens onkunde en deur sonkrag- en groenkragaanlegte. Koen, vroeër ook ’n departementshoof van die Noord-Kaapse department van natuurbewaring, is die enigste valkenier in die Noord-Kaap. Hy hoop dat jong mense ook dié liefde vir roofvoëls sal aankweek.


Bedreigde aasvoëls in ’n boom. Foto: Vulture Sentinels

Volgens Vulture Sentinels is die aasvoël die natuur se skoonmakers en voorkom hulle die verspreiding van siektes wat normaalweg deur verrotte karkasse veroorsaak word. Sonder aasvoëls sal hierdie karkasse ook rondloperhonde, vlieë en muise lok. Dié voëls is ’n belangrike skakel in ’n gesonde ekosisteem en balans in die natuur. Die afname in hul getalle wys dat daar ’n wanbalans is ten opsigte van besoedeling en vergiftiging en die oorontwikkeling van gebiede.

Die aasvoël is die skoonmaker van die natuur. Foto: Vulture Sentinels

 Hoe gemaak as jy op ‘n beseerde aasvoël afkom?

Indien daar afgekom word op ’n beseerde of dooie aasvoël kan Vulture Sentinels in kennis gestel word wat dan dadelik sal reageer om by die beseerde voël uit te kom. Indien die aasvoël reeds met ’n plaatjie gemerk is, sal hulle interessante inligting met jou kan deel soos die ouderdom en geboorteplek van die voël en hoe ver die aasvoël al gevlieg het. 

Enige beseerde of dooie aasvoëls kan by Vulture Sentinels aangemeld word. Foto: Vulture Sentinels


‘n Aasvoël in veilige hande. Foto: Vulture Sentinels

Beseerde aasvoëls moet liefs nie self gehanteer word nie. Die organisasie sal die nodige vervoer en versorging reël. Aneska Almendro van Vulture Sentinels kan by 079 895 9385 of aneska.almendro.5@gmail.com gekontak word.

Die Vulture Sentinels se einddoel met rehabilitasie en sorg is om die roofvoëls veilig vry te laat.

Die gerehabiliteerde aasvoëls word weer in die natuur vrygelaat. Foto: Vulture Sentinels

Dié groep staan ook by hul leuse: “Not all heroes have feathers of gold; some clean the earth in silence. On the wings of vultures, nature heals itself.”

Deur aasvoëls te bewaar word mense, die natuurlewe en die omgewing beskerm.


OFM Agri/Isabel van Tondercvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.