On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Vrystaatse RPO waarsku teen paniek, dissipline nodig

───   06:00 Thu, 17 Jul 2025

Bek-en-klouseer: Vrystaatse RPO waarsku teen paniek, dissipline nodig | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

Nadat bek-en-klouseer weer in die Vrystaat bevestig is, waarsku PD Cilliers, voorsitter van die dieregesondheidsforum van die RPO in die provinsie, teen paniekerige optrede.

Hy sê die sleutel lê by produsente se selfdissipline en nugtere besluite. “Benoude katte maak benoude spronge. Dit is nou die tyd om kalm te bly en verantwoordelik op te tree.”

Die betrokke uitbreking is die eerste vir 2025, maar Cilliers herinner dat die siekte ook in 2024 in die Vrystaat uitgebreek het. Hy meen die beste pad vorentoe is om vir die volgende drie tot ses maande nie enige diere vanaf provinsies waar bek-en-klouseer tans voorkom, na die Vrystaat te verskuif nie. 

“Produsente moet hulle aankope eerder in die Noord-Kaap of Wes-Kaap doen – provinsies waar daar geen bek-en-klouseer aangemeld is nie.”

Volgens Cilliers sal die uitbraak ’n langtermyn-impak op die Vrystaatse vleisbedryf hê, veral op uitvoer. “Bek-en-klouseer is ’n vloekwoord op die internasionale mark. Ons het skoon status geniet, maar dit gaan ons minstens 12 tot 18 maande neem om dit weer te herwin.”

Op die vraag of daar reeds met inentings begin is op die betrokke plaas, bevestig Cilliers dat die diere ingeënt is en dat opvolginentings en bloedtoetse voortgaan. Hy verduidelik die onderskeid tussen inenting “to kill” – waar besmette diere uitgeslag word – en “to live”, wat van kommersiële en stoetboere vereis om diere oor langer tydperke herhaaldelik in te ent en te toets.

Cilliers het egter min vertroue in die staat se rol. “Produsente moet aanvaar dat die staat misluk het op elke vlak, behalwe dalk vir die polisie. Reëls word gebreek en die staat gaan ons nie uit hierdie ding red nie. Dit gaan van produsente self kom: pas self maatreëls toe, hou rekord van vee, en wees verantwoordelik in aankope.”

Hy waarsku dat bek-en-klouseer nie net ’n gesondheidskrisis is nie, maar ’n beduidende bedreiging vir die ekonomiese volhoubaarheid van die Vrystaatse vleisprodusente.

OFM Agri/Johan Gunter cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.