On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

‘Doelbewuste brandstigting verwoes weiding van Vrystaatse grensboere’

───   20:20 Mon, 21 Jul 2025

‘Doelbewuste brandstigting verwoes weiding van Vrystaatse grensboere’ | News Article
Die nadraai van ’n doelbewuste veldbrand tydens VL se besoek in 2024. Foto: Vrystaat Landbou

Vrystaat Landbou (VL) maak alarm oor ’n oplewing in doelbewuste veldbrande wat na bewering deur individue uit Lesotho aangesteek word op plase langs die RSA/Lesotho-grens.

In slegs drie dae is sewe brande binne ’n 20 km-radius in die Boesmanskopgebied, naby Wepener en Zastron, aangemeld, vertel die organisasie in ’n mediaverklaring. “Grensboere leef in konstante vrees,” sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL. 

“Die verlies van weiding, vee en infrastruktuur is nie net ekonomies rampspoedig nie – dit raak ook veiligheid en bestaansvermoë.” In 2024 moes boere in dieselfde gebied 57 brande binne twee maande bestry.

Volgens boer Gerard Jordaan bestaan daar onder sekere Lesotho-inwoners die wanpersepsie dat veldbrande nuwe weiding bevorder. “Hulle steek die veld aan die brand en dryf dan hul vee onwettig Suid-Afrika binne om daar te kom wei.”

VL het reeds ’n dringende versoek aan relevante provinsiale en nasionale owerhede gerig om met Lesotho se regering in gesprek te tree. “Ons moet bewustheid skep oor die onwettigheid en gevolge van hierdie praktyk,” beklemtoon Buys.

Die probleem word vererger deur die swak toestand van die grenspad in Vanstadensrus, wat dit vir Working on Fire en ander noodspanne feitlik onmoontlik maak om hulp te verleen. Dr. Buys sê die saak is reeds in 2024 onder LUR’e se aandag gebring, maar geen vordering is gemaak nie.

Herstel van grenspad ’n nasionale prioriteit

“Grensboere word aan hul eie genade oorgelaat – hulle moet hulself beskerm, paaie in stand hou en steeds kos produseer vir die land.” 

VL doen ’n ernstige beroep op die Minister van Openbare Werke om die herstel van die grenspad as ’n nasionale prioriteit te hanteer.

Intussen waarsku dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, dat die brandseisoen vinnig naderkom. Hy versoek boere om paraat te wees en aktief deel te neem aan hul plaaslike brandbeskermingsverenigings.

OFM Agri/Verklaring cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.