On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

‘Sodat ander mag leef’: Die stille helde van soek-en-redding in Suid-Afrika

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 04 Aug 2025

‘Sodat ander mag leef’: Die stille helde van soek-en-redding in Suid-Afrika | News Article
Die afgelope jaar was Search and Rescue betrokke by 38 reddingsoperasies in die Vrystaat en Noord-Kaap. Foto: Verskaf

Die nood-en-reddingsorganisasie Sarza, beter bekend as Search and Rescue, is een van daardie instellings wat stil-stil en met toewyding en professionaliteit lewens red.

In ’n land waar natuurterreine en afgeleë gebiede deel van die landskap is, is die beskikbaarheid van ’n georganiseerde soek-en-reddingspan nie net ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Sarza is een van daardie instellings wat in stilte, met toewyding en professionaliteit lewens red en dit is juis waarna hul leuse verwys: “So others may live.”

Sarza bestaan hoofsaaklik uit opgeleide vrywilligers wat mense soek en red tydens rampe en ongelukke of help wanneer iemand in afgeleë gebiede vermis raak. Daar word nooit onafhanklik opgetree nie en in alle gevalle werk Sarza saam met ander instansies soos die polisie, weermag, burgerlike beskerming, die nooddienste en Nasionale Seereddingsinstituut. ”Hulle bied spesialishulp aan in situasies waar ander dienste dalk nie maklik toegang het nie en help ander noodorganisasies om hul werk beter te kan doen,” sê Braam Korff, voorsitter van die Vrystaat-streek van Sarza.

Die organisasie se logo.

Opleiding is ‘n prioriteit en in die Vrystaat-streek is vanjaar al meer as 55 opleidingsessies gehou wat neerkom op 4 470 uur. Die afgelope jaar was hulle betrokke by 38 reddingsoperasies in die Vrystaat en Noord-Kaap, wat altesaam 2 524 uur geduur het.


Search and Rescue se spesialisvaardighede sluit onder meer navigasie, taktiese-soekmetodes, kommunikasie, oorlewing, waterredding, noodhulp, helikopteroperasies, brandbestryding, knooptegnieke en gevorderde voertuigbestuur in.

’n Span van Search and Rescue.  Foto: Search and Rescue

Hulle was ook betrokke by reddingsoperasies tydens die Viljoenskroon-vloed, die Jagersfontein-slikramp en die redding van ‘n kind wat in ‘n boorgat geval het.

Sarza voer soms moeilike reddingsoperasies uit.  Foto: Search and Rescue

Sarza se rol in landbou kan glad nie onderskat word nie. Al die vrywilligers in die organisasie word opgelei in vlak 1-veldbrandbestryding. Hulle ondersteun ander organisasies wat die brande beveg met logistieke en ander reddingshulp.

In die geval van padsluitings ondersteun Sarza die verkeerspolisie. Boere word ondersteun in gevalle van vloede, met die aflewering van kospakkies in noodsituasies, en met ontruiming, welstandkontroles waar opgevolg word wanneer plaasbewoners se veiligheid in die gedrang kan wees, en soek-en-reddingsoperasies. Dit geskied in samewerking met die polisie en rampbestuur.

Daar is geen vaste tydgleuf vir reddingsoperasie nie. Foto: Search & Rescue

Sarza maak slegs gebruik van vrywilligers en tree dadelik op as daar ‘n noodroep is.  Alle fondse word verkry deur die aanbied van spesiale geleenthede en donasies en skenkings van die publiek en ondernemings.

Enigiemand wat betrokke wil raak kan vir Braam Korff kontak by 0824555944 of braam.korff@sarza.org.za, of www.sarza.co.za besoek.

OFM Agri/Isabel van Tonder





@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.