Agriculture
Landbou-indiensneming daal in tweede kwartaal─── 05:00 Wed, 13 Aug 2025

Suid-Afrika se landbou-indiensneming het in die tweede kwartaal van 2025 met 3% gedaal tot 906 000 poste.
Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, word dit hoofsaaklik toegeskryf aan verliese in die veesektor, sekere veldgewasse en akwakultuur. Siektes soos bek-en-klouseer in beesboerdery en vertragings in die oessiklus van sekere somergewasse het druk op indiensneming geplaas.
Op ’n jaargrondslag is daar egter ’n toename van 1% teenoor die tweede kwartaal van 2024. Dit weerspieël die sterk produksie in veldgewasse en tuinbou.
Die Oesskattingskomitee voorspel dat die 2024/25-oesseisoen vir somergraan en oliesade 18,74 miljoen sal lewer – ’n styging van 21% jaar op jaar. Vrugte, wyn, suikerriet en groente toon ook stewige produksiesyfers.
Die enigste subsektore met jaarlikse indiensnemingsverliese is akwakultuur, bosbou en die vervaardiging van organiese kunsmis. Die huidige vlak van 906 000 poste bly egter ver bo die langtermyn-gemiddeld van 799 000.
Provinsiaal het die Wes-Kaap, Noord-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng kwartaal-op-kwartaal-werksverliese aangeteken, terwyl ander provinsies effens verbetering getoon het. Sihlobo waarsku bek-en-klouseer plaas steeds druk op die veesektor, terwyl handelskwessies, hawens- en spoorversteurings, swak paaie, misdaad, veediefstal en swak munisipale dienste ook die sektor se groei en werksvooruitsigte demp.
OFM Agri mvh