On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Stryd dreig om Amerikaanse hoenderkwota

───   10:03 Mon, 01 Sep 2025

Stryd dreig om Amerikaanse hoenderkwota  | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

’n Stryd oor die invoer van hoender uit die VSA na Suid-Afrika dreig. Invoerkwotas, tariewe en die toekoms van plaaslike boerderygemeenskappe is op die spel.

Luidens ’n verklaring van die Fairplay Movement kan 72 000 t hoender jaarliks vry van teenstortingsheffings Suid-Afrika binnekom kragtens ’n ooreenkoms sedert 2015. Hierdie voorwaarde is deur onderhandelaars van die VSA afgedwing toe die land se voordele onder die African Growth and Opportunity Act (Agoa) hernu is. 

Volgens die ooreenkoms moes die kwota egter verval het indien Suid-Afrika daardie handelsvoordele verloor.

“Noudat nuwe Amerikaanse tariewe Suid-Afrikaanse uitvoer swaar tref, voer die plaaslike pluimveebedryf aan die kwota is ongeldig. Tog probeer Amerikaanse produsente en plaaslike invoerders dit behou – en selfs uitbrei – as deel van nuwe handelsgesprekke met die Trump-administrasie.”

Risiko vir plaaslike boere

Plaaslike produsente waarsku die kwota is ’n “vrypas vir storting”. Elke ton wat sonder heffings ingevoer word, kom volgens hulle teen onregverdige lae pryse die mark binne, wat werk en beleggings bedreig.

Invoerders, veral die drukgroep ChickenFacts, meen weer die kwota sal geen skade berokken nie en bloot ’n markleemte vul. Die VSA-pluimveebedryf ondersteun dié standpunt en sê vrees vir storting is ongegrond.

“Maar die syfers skets ’n ander prentjie: In 2015, net voor die kwota ingestel is, het die VSA slegs 331 t hoender uitgevoer na Suid-Afrika. Teen 2019 het dit opgeskiet tot meer as 82 000 t – ver bo die kwota – totdat voëlgriepuitbrekings die handel geknou het.”

Werksverliese en groter armoede

Die VSA se onderhandelingsposisie strek verder as net die kwota. Hulle mik nou na die algemene invoertariewe op hoender. 

Waar Europese Unie-invoer weens ’n bilaterale ooreenkoms vry van regte inkom, betaal VSA-uitvoerders 62% tarief op been-in-porsies, 82% op heel gevriesde hoenders, 42% op beenlose porsies en 30% op afvalprodukte soos pote en lewers.

Die VSA wil dié tariewe verlaag of afskaf – ’n stap wat plaaslike boere vrees sal lei tot fabriekstoop, werksverliese en groter armoede op die platteland.

Kortsigtige toegewings

Storting ontstaan omdat Noordelike Halfrond-markte wit vleis (borsies) verkies, terwyl bruin vleis (dye en pote) oorbly en teen afslagpryse uitgevoer word. Suid-Afrika is een van die teikenmarkte waar dit goedkoop verkoop kan word.

Vir plaaslike verbruikers lyk dit na winskopies, maar vir die plaaslike bedryf beteken dit dat boere nie kan meeding met pryse wat ver onder produksiekoste vasgestel word nie. Daarom het die Internasionale Handelsadministratiewe Kommissie (Itac) reeds in 2000 teenstortingsheffings ingestel en verlede jaar hernu nadat bevind is dat die gevaar steeds bestaan.

Terwyl die hoenderbedryf druk ervaar, begin ander sektore hul uitvoer herlei. Ná die aankondiging van 30%- algemene tariewe op Suid-Afrikaanse goedere na die VSA, het maatskappye vinnig na Afrika en Asië gediversifiseer.


Volgens Nedbank se Amith Singh was staal, hout, masjinerie en plastiek vooraan in dié skuif. Standard Bank se Luthando Vuba sien groot geleenthede in die Afrika-vryhandelsgebied (AfCFTA), veral vir voertuie en onderdele. Lande soos Marokko, Ghana en Rwanda bied nou nuwe beleggingsgeleenthede vir plaaslike vervaardigers.

Ido Lekota, onafhanklike politieke ontleder, waarsku Suid-Afrika se toegeeflikheid teenoor Amerikaanse eise skep ’n gevaarlike presedent. “Om die plaaslike pluimveebedryf te verswak in ruil vir ander handelsvoordele is ’n korttermyn-wins met skade op langter myn,” skryf hy in die Weekly SA Mirror.

Hy beklemtoon voedselsekerheid, biosekuriteit en plaaslike werksgeleenthede is op die spel. Hy kritiseer veral die besluit om die VSA self te laat bepaal wanneer uitvoerverbod weens voëlgriep opgelig word.

Lekota meen Suid-Afrika moet sy benadering herkalibreer:

  • Herwin volle beheer oor gesondheids- en veiligheidsmaatreëls deur die departement van landbou.
  • Betrek alle belanghebbendes – van boere tot verbruikersorganisasies – in die onderhandelings.
  • Onderhandel breër ooreenkomste waar toegewings in een sektor vergoed word met beskerming of voordele in ander.

OFM Agri/Verklaring

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.