Agriculture
Diversiteit in boerdery sluit kamele in─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 04 Sep 2025

Diversiteit op ’n plaas is baie noodsaaklik en kan verskeie vertakkings beteken.
In moderne landbou is diversiteit een van die belangrikste sleutels tot volhoubaarheid en winsgewendheid. Deur nie net op een gewas of diersoort staat te maak nie, verklein boere hul risiko’s teen klimaatsverandering, markskommelinge en siekte-uitbrekings.
Wilna Boshoff-Strauss van die Noordwes-omgewing het besluit om met kamele te boer op haar plaas en só haar grond optimaal te benut. Kamele is besonder goed aangepas vir droë toestande, lewer melk met hoë voedingswaarde, vleis van goeie gehalte, asook velle en hare wat vir verskeie doeleindes gebruik kan word.
In vergelyking met beeste veroorsaak kamele minder skade aan weiveld omdat hul voetstruktuur sagter is.
“Kamele is ook herkouers, net soos beeste. Alles waarteen jou beeste ingeënt word, moet kamele teen geënt word. Hulle is ook bek-en-klou-sensitief en moet met sorg behandel word,” sê Boshoff-Strauss.
Kamele is meer gras-, struik- en bosbeweiders en geniet dit om katbosse te vreet wat op baie plase ’n groot probleem is. Hulle het nie buitengewone en ander behoeftes aan water as dit wat bestaande vee reeds het nie.
Wilna Boshoff-Strauss by een van haar kamele op die plaas. Foto verskaf
Kameelmelk is besonder veelsydig, voedsaam en gesond. Dit het ’n laer vetinhoud as koei- en bokmelk en is ’n goeie bron van energie.
Dit is ryk aan minerale, bevat immuunversterkende proteïne en is veral geskik vir persone wat laktose-intolerant is.
Kameelmelk veroorsaak verder minder allergiese reaksies, reguleer bloedsuikervlakke en is ’n belangrike bestanddeel in skoonheidprodukte.
Hou in gedagte
“Boere wat beplan om kamele aan te hou, moet die volgende in gedagte hou. Heinings moet sterk wees, want hulle eet twee meter anderkant die draad en breek só die boonste draad,” sê Boshoff-Strauss.
“Hulle is herbivore wat alle plante vreet.
“Kamele is liefdevolle diere wat jou versorging en lojaliteit beloon met ’n sagte temperament en liefdevolle gedrag.”
OFM Agri mvh