Agriculture
Osboerdery skep tradisie en toekoms in landbou─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 08 Sep 2025

Osboerdery het ’n diepgewortelde plek in die geskiedenis van landbou. Hoewel moderne tegnologie baie van hul funksies oorgeneem het, leef dit in sekere boerderye voort.
Osse is van die oudste mak diere wat boere met ploegwerk, vervoer en die trek van waens ondersteun het. Hul uithouvermoë en gehardheid het hulle ideaal gemaak vir vroeë pioniers se boerderypraktyke.
In die hedendaagse konteks word osse nie meer op groot skaal as trekdiere gebruik nie, maar hul rol beleef weer ’n herlewing. Osse lewer ’n hoë gehalte beesvleis, veral as hulle natuurlik afgerond word op weiding. Osboerdery het ook ’n hoë ekonomiese waarde as deel van ’n kudde.
“Osboerdery is baie maklik en lekker en dis ’n vertakking van jou boerdery wat jy byna van kan vergeet. Dis nie ’n gesukkel met drade wat gebreek word om by koeie uit te kom nie. Dis ’n baie lekker aanvulling tot ’n volhoubare boerdery,” sê Flippie Snyman van die plaas Krabfontein in die Heilbron-distrik.
Osse is bekend vir hul langlewendheid, sterk bou en gehardheid. Dit bewys Snyman se wen-os, Jors, wat die kompetisie Mega Os en ook die swaarste os in Suid-Afrika in 2024 gewen het met ’n gewig van 1 460kg. Jors is ‘n Charolais- Brahman-kruising en sewe jaar oud.
’n Groot beenstruktuur in osse is belangrik vir suksesvolle osboerdery. Foto verskaf
Goeie speenkalf- en slagpryse veroorsaak dat die nut van osboerdery grootliks misgekyk word, sê hy. Met die hernude fokus op volhoubare boerdery kan osboerdery weer ’n belangrike nisrol vervul.
Hoewel dit nie meer die ruggraat van moderne boerdery is nie bly dit ’n lewende herinnering aan die veerkragtigheid van die boer en die onnmisbare rol van diere op die plaas.
OFM Nuus/Isabel van Tonder dg