On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Steenhuisen: Landbou kan handelsbalans help herstel

───   08:54 Mon, 15 Sep 2025

Steenhuisen: Landbou kan handelsbalans help herstel | News Article
Aan die kantlyn van die #G20-werkgroep se ministeriële vergadering het John Steenhuisen aan 'n FNB-bespreking deelgeneem. Foto: Nasionale landboudepartement/Facebook

Terwyl die landbouministerie vandeesweek die G20-beraad en voedselsekerheidstaakmag in Kaapstad lei, sal ’n SA-afvaardiging Woensdag na die Withuis terugkeer om oor die 30%-tariewe met Amerika te onderhandel.

John Steenhuisen, minister van landbou, beklemtoon in ’n verklaring hoewel die landbousektor nie alleen Suid-Afrika se handelsbalansprobleme kan oplos nie, dit ’n unieke posisie beklee om stabiliteit en groei te bevorder deur werkskepping in landelike gebiede, inklusiewe groei en die verdien van buitelandse valuta.

Volgens die Reserwebank se jongste betalingsbalansverslag het die land se handelsoorskot tussen die eerste en tweede kwartaal vanjaar van R211 miljard tot R177,1 miljard gekrimp. Die daling is hoofsaaklik gedryf deur stadiger uitvoer van mynbou- en landboukommoditeite, veral groenteprodukte soos mielies waarvan die uitvoerwaarde beduidend afgeneem het.


Steenhuisen wys daarop Suid-Afrika se landbou-uitvoer het in die tweede kwartaal steeds $3,71 miljard beloop – ’n styging van 10% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Dis grootliks danksy sitrus, appels, pere, wyn, neute, vrugtesappe, avokado’s, druiwe en wol.

“Die syfers toon die sektor se veerkragtigheid en sy volgehoue bydrae tot die bruto binnelandse produk.” Volgens Statistieke Suid-Afrika het landbou met 2,5% in die tweede kwartaal gegroei, hoofsaaklik weens hoër aktiwiteit in tuinbou en diereprodukte.

Hy waarsku die sektor is nie immuun teen eksterne skokke nie. Die jongste voorbeeld is die 30%-tarief op Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer na Amerika, terwyl mynboukommoditeite vrygestel is. “Hierdie tariewe plaas onnodige druk op sitrusprodusente, makadamia-uitvoerders en wynboere wat oor jare markte in Amerika opgebou het.”


Volgens hom word opkomende uitvoerders wat pas in globale waardekettings betrokke geraak het, veral geraak. Dit kan transformasie- en ontwikkelingswins in die sektor ongedaan maak.

Die departement van landbou is besig om saam met die departement van handel, nywerheid en mededinging en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking ’n teenstrategie te ontwikkel. 

“Ons verskerp ons handelsdiplomasie deur multilaterale platforms en versnel terselfdertyd pogings om uitvoermarkte te diversifiseer.” Nuwe bilaterale ooreenkomste word onder meer gefinaliseer met China (avokado’s), Indië (varsprodukte), Japan (graan) en die Midde-Ooste (beesvleis).

‘Nie net uitdaging vir betalingsbalans’

Mielies bly een van Suid-Afrika se strategiese uitvoerkommoditeite, maar die daling in uitvoerwaarde in die tweede kwartaal weerspieël ’n kombinasie van laer volumes, sagter internasionale pryse en stygende handelswrywing. 

“Dis nie net ’n uitdaging vir die land se betalingsbalans nie, maar ook vir boere, landbou-ondernemings en landelike gemeenskappe wat van stabiele uitvoervraag afhanklik is.”

Tog toon die sektor steeds veerkragtigheid, met sy volgehoue groei en bydrae tot die ekonomie, ondanks plaaslike en internasionale druk.

OFM Agri/verklaring ebk dg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.