Agriculture
Hondsdolheid en sterftes kán met inenting voorkom word─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 23 Sep 2025

September is Hondsdolheidmaand en vestig die aandag opnuut daarop dié skrikwekkende siekte kan voorkom word deur gereelde inenting.
Hondsdolheid is ’n angsaanjaende siekte vir mens en dier, maar kan voorkom word deur gereelde inentings. September is Hondsdolheidmaand en verskeie klinieke word landwyd gehou waar diere gratis of teen minimale koste ingeënt kan word.
Dié siekte word deur ’n virus veroorsaak. Die virus dring die senuweestelsel binne, bereik uiteindelik die brein en veroorsaak so die dood van mens en dier. Die simptome wat sigbaar is, is direk as gevolg van die aantasting van die senuweestelsel.
Dit begin met koors en gedragsverandering. Wilde diere tree mak op en mak diere byt sommer. Die virus word in groot maat in speeksel uitgeskei en dit is waarom kontak met speeksel of ’n byt so gevaarlik is.
“Enige dier kan die siekte dra,” sê dr. Hanri Bester Cloete, staatsveearts van Bloemfontein., “Ek het die afgelope jaar positiewe gevalle gehad in beeste, skape, katte, aardwolwe, honde, muishonde, jakkalse en die lys gaan aan.”
Mense moet versigtig wees om hul hand sommer net in ’n bees of skaap se bek te druk om te kyk of daar iets vassit, veral as die dier kwyl. Blootstelling aan die virus kan so verhoog word. Ongekende aggressie en verlamming is ook duidelike tekens van dié siekte.
Die siekte is lewensgevaarlik vir die mens. Die siekte kan oorgedra word deur ’n byt, of wanneer speeksel byvoorbeeld in ’n sny op jou hand kom. Wanneer ’n mens of dier simptome begin wys, kan die siekte nie meer genees word nie, en dood is die uiteinde.
Jaarlikse inentings kan hondsdolheid voorkom. Foto: Pexels.com
Die belangrikste om te doen wanneer ’n mens vermoed ’n dier het hondsdolheid, is om jou naaste veearts of staatsveearts te kontak. Indien ’n bytwond opgedoen word, spoel dadelik die wond vir tien tot15 minute onder lopende water af. Kontak die dokter onmiddellik, wat met voorkomende behandeling sal begin.
Inenting moet jaarliks plaasvind en in die eerste jaar van honde en katte se lewe moet hul verkieslik twee maal ingeënt word.
“As jou hond of kat in die laaste jaar nie ingeënt is nie, maak sommer vandag ‘n afspraak by jou veearts. Vyf minute van jou tyd vandag kan vorentoe ’n lewe red. Die siekte is 100% voorkombaar deur ’n eenvoudige inenting,” sê Bester Cloete.