Agriculture
Savpo HUB: Varkbedryf uitstekend geposisioneer vir volhoubaarheid─── ELZETTE BOUCHER 06:00 Thu, 25 Sep 2025

Dr. Marlene Louw beklee nou die pos van hoof- uitvoerende beampte by Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (Savpo) en bring ’n ryk ervaring in landbou, volhoubaarheid en finansiële bestuur na die bedryf.
Sy het die pos oorgeneem van dr. Peter Evans, wat gevra is om die operasionele sentrum van die Rooivleisbedryfsdienste vir die bek-en-klouseer-uitbrekings in Suid-Afrika te bestuur. “Ek is nou amper drie maande in die stoel.
“Voor dit het ek vyf jaar by Absa gewerk, waar ek die landbou-inligtingsafdeling bestuur het. Deel van my werk daar het behels hoe volhoubaarheid in finansiële prosesse geïntegreer kan word.
Ek sien baie uit daarna om dieselfde benadering by die varkbedryf toe te pas,” vertel Louw.
Savpo is ’n produsente-ledeorganisasie wat poog om ’n omgewing te skep waarin varkprodusente suksesvol sake kan doen. Dit sluit verbruikersopvoeding, dieregesondheid, voedselveiligheid en welsyn in, asook ’n besigheidsintelligensie-afdeling wat ekonomiese faktore in die bedryf monitor.
Die organisasie werk nie net met kommersiële produsente nie, maar het ook ’n sterk transformasie-komponent, insluitend mentorskap van klein swart boere om hul varkboerdery te verbeter en moontlik na kommersiële vlakke te skuif.
Raak betrokke
Louw is ’n spesialis in volhoubaarheid en ESG (Environmental, Social, Governance). Sy meen die varkbedryf is goed geposisioneer om by volhoubaarheidsgesprekke betrokke te wees.
“Effektiwiteit in varkgenetika dra by tot groot volhoubaarheid, veral in hulpbrongebruik per kilogram vleis. Ons verbruikersversekeringsprogram meet ook kwessies soos watergebruik, antibiotika en diereversorging, wat bydra tot ’n groter volhoubaarheidsprentjie.”
Produksie- en verbruikersbelangstellendes kan betrokke raak by Savpo. Louw moedig produsente aan om uit te reik, selfs net vir ’n welwillendheidsbesoek, terwyl verbruikers kan leer oor kreatiewe en bekostigbare varkvleisopsies in hoofstroom- en digitale media.
OFM Agri mvh