Agriculture
Padherstelfonds droog op, boere betaal maar self, sê VL─── ISABEL VAN TONDER 10:05 Thu, 02 Oct 2025

Boere het geen ander keuse nie as om afgetrede padskraper-operateurs op eie koste aan te stel om belangrike paaie begaanbaar te hou, omdat die regering se projekfondse reeds uitgeput is.
Die projekfondse is ná die eerste derde van die boekjaar reeds uitgeput. Daarom moet boere noodgedwonge self afgetrede padskraper-operateurs aanstel om lewenbelangrike plattelandse paaie begaanbaar te hou.
“Ten spyte van herhaalde pleidooie van boere word geen nuwe laervlakwerknemers soos pik-en-graafwerkers of padskraper-operateurs aangestel nie,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).
Dié stand van die departement se geldsake is bevestig ná die stilstand van die Clocolan-Marquard-projek en terugslae in die slaggatherstelprojek,wat deur Wesselsbron en Senekal se boerevereniging in vennootskap met die Sentrale Universiteit van Tegnologie bedryf word.
Die projekfondse vir die instandhouding van paaie het opgedroog. Foto: Pexel.com
Die departement sê in sy amptelike reaksie die sleutelprobleem hou verband met begrotingsbeperkings. Die departement het nie genoeg geld om te voorsien in dringende padonderhoudsbehoeftes dwarsoor die provinsie nie.
Hoewel die departement sy dank betuig vir die samewerking deur belanghebbendes, het Wilken op ’n onlangse vergadering gewaarsku boere kan nie langer die finansiële las dra om infrastruktuur te herstel wat die breër gemeenskap dien nie.
“Boere se finansies is onder geweldige druk. Selfs waar die landbouwaardeketting bydra tot padherstelprojekte, filter die koste uiteindelik terug na die boer deur hoër insetpryse. Dit is nie volhoubaar nie,” het Wilken gemaan.
Vordering met ‘Sanral-paaie’
VL verwelkom die vordering wat gemaak is met provinsiale paaie wat na Sanral oorgedra is, en bevestig hulle sal aanhou betrokke raak.
Wilken beklemtoon die probleme in die departement kan nie geïgnoreer word nie. Die padprojekbegrotings stort jaarliks in duie onder die sware las van wanbestuur.
Die organisasie wag op ’n reaksie op sy memorandum, wat in Februarie aan die LUR oorhandig is, bevestig dr. Jack Armour, VL se kommersiële bestuurder.