Agriculture
Vrystaat-grensboere vra tegnologie, nie begaanbare grenspad─── ISABEL VAN TONDER 13:35 Thu, 02 Oct 2025

Vrystaat Landbou (VL) en grensboere het op ’n raadplegingsvergadering saamgestem dat ’n betroubare selfoonsein in die Suidoos-Vrystaat belangriker is as herstelwerk om die grenspad weer begaanbaar te maak.
Boere van Wepener, Boesmanskop en Zastron is eenparig gekant teen ’n begaanbare pad aan die grens met Lesotho. VL het onlangs ’n beraadslagingsvergadering met grensboere in die Suidoos-Vrystaat bygewoon oor herstelwerk aan die pad aan die grens met die bergkoninkryk.
“Boere vra al dekades dat die grenspad herstel word op ’n manier wat die veiligheid van boere en plaasgemeenskappe beskerm. Die werklikheid is egter dat nie die provinsiale of die nasionale regering die versoek geprioritiseer het nie,” sê Francois Wilken, president van VL.
Boere vra eerder behoorlike selfoontegnologie as dat die dienspad op die grens verbeter word. Foto: Pexel.com
Die boere meen ’n begaanbare grenspad sal misdaadsindikate uit Lesotho lok wat heinings afbreek en paaie met klippe versper.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag weier om die klippe te verwyder, en boere twyfel of die weermag patrollering sal opskerp.
Sindikate sal ook vinniger en meer gereeld gesteelde vee en ander eiendom oor die grens kan vervoer. Dit verhoog die risiko’s en stel die veiligheid van boere en plattelandse gemeenskappe in groter gevaar.
‘Hou bestaande paaie in stand’
Boere versoek dat die bestaande toegangsroetes na die grens beter in stand gehou word vir noodgevalle, sê Wilken. Moderne tegnologie soos ’n betroubare selfoonsein is ’n noodsaaklikheid.
VL bevestig hy het ná talle skrywes ’n vergadering met die minister van kommunikasie verkry om die reëling van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) te bespreek wat verhoed dat selfoonmaatskappye seine oor die grens kan stuur.
“Ons boere se veiligheid kan nie langer geïgnoreer word nie. Oplossings lê nie in ’n rybare grenspad nie, maar in beter toerusting en tegnologie wat misdaad kan voorkom,” sê Wilken.