On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Reënseisoen voorspel bloutong onder vee

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 16 Oct 2025

Reënseisoen voorspel bloutong onder vee | News Article
Bloutong kan voorkom word deur nou met inentings te begin. Foto: Pexel.com

Aan die begin van die reënseisoen word boere gevra om betyds hul vee in te ent teen bloutong.

Bloutong is ’n siekte wat veroorsaak word deur ’n virus en hoofsaaklik skape aantas, maar enige herkouers kan egter aangetas word. Die siekte oorleef vermoedelik reeds honderde jare in wildbevolkings, maar dit as as siekte aangeteken in die laat 18de eeu nadat merinoskape na die Kaap gebring is. 

Bloutong word hoofsaaklik versprei deur insekbyte. Dit behels meganiese verspreiding waar ’n viruspartikel direk van ’n siek dier na ’n gesonde dier oorgedra word. Muggies is die vernaamste verspreiders.

“Die eerste teken is altyd koors, in aangetaste diere tot 40 °C of hoër. Dit veroorsaak dat klein kappilêre bloedvate lek, veroorsaak ook long edeem (vog op die longe), skuim wat by die neus uitkom en swelling van die tong, gesig en nek,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van Bloemfontein veterinêre laboratorium.

“Nog ’n simptoom is dat die diere se nek na agter draai. Daar is ook inflammasie van die randjie waar die kloutjie aan die vel kom; daar sal ’n rooi rant wees, die klou sal warm voel en die dier sal kruppel loop of skape sal selfs op hulle knieë loop omdat dit so pynlik is om te loop.

“Daar is ook seertjies aan die lippe, verhemelte en tandvleis.”

Simptome in beeste

Ligte simptome in beeste, veral jong kalwers, is koors en ’n tong wat opswel. Kalfies kan gebreklik gebore word, en dit word soms aan bloutonginfeksie van die koei toegeskryf, veral in die vroeë stadium van dragtigheid.

Voorkomingsmaatreëls

Dit is juis belangrik om nóú te begin inent. Gewoonlik kom gevalle eers later in die somer voor, van Desember tot Januarie, maar nou in die lente is die regte tyd om te begin inent. 

In Suid-Afrika is twee entstowwe beskikbaar. Die lewende entstof, wat uit drie bottels bestaan, word dan drie weke uitmekaar geënt. 

Dis belangrik dat diere nie dragtig is nie, anders kan lammers met gebreke gebore word.

Inenting kan bloutong onder vee voorkom. Foto: Pexel.com

Die nuwe entstof van Design Biologix kan ook gebruik word: twee entings, vier weke uitmekaar. Dié entstof kan tydens dragtigheid toegedien word en selfs vir lammers vanaf sewe dae oud.

Ramme moet steeds meer as twee maande voor die dekseisoen klaar geënt wees, omdat koors kan volg en tot tydelike onvrugbaarheid kan lei.

Rol van muggies

“Dit is baie moeilik om muggiebevolkings te beheer; muggies en muskiete hou van water en laagliggende gebiede. Dit is dus raadsaam om diere nie naby water te laat slaap nie, maar verkieslik op koppies of bulte. Insekweermiddels kan ook aan diere gespuit word om insekte te beperk”, sê Bester-Cloete.

Bloutong lei tot finansiële en ekonomiese verliese, maar kan voorkom word deur inenting. “Die belangrikste is om altyd ’n diagnose van jou veearts te kry, diere wat bloutong het moet in die koelte gehou word en skape moet sagte kos kry want hulle bekke is seer,” sê sy.

“Omdat dit ’n virus is, is daar nie behandeling nie, maar die simptome kan behandel word totdat die dier se immuunstelsel self teen die siekte kan baklei.” Die belangrikste boodskap is egter dat skape nou ingeënt word. Onthou: Voorkoming is altyd beter as behandeling.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.