Agriculture
Bek-en-klouseer: Samewerking ‘belangriker as ooit’─── 16:55 Thu, 16 Oct 2025

Die krisis in Suid-Afrika se dieregesondheid vereis nou meer samewerking as ooit tussen die staat, privaat veeartse en produsente.
Só sê dr. Dave Migley, voorsitter van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika, wat by NAMPO Alfa 2025 die dringende behoefte aan ’n gesamentlike reaksie beklemtoon het. Hy het ten tyde van Landbouweekblad se vee-akademie gepraat, waar bedryfleiers en produsente die huidige stand van dieregesondheid bespreek het.
Migley sê die staat het hierdie week ’n versoek aan privaat veeartse gerig om meer aktief deel te neem aan die beheer van staatsbeheerde siektes soos bek-en-klouseer, brucellose en hondsdolheid.
“Ons moet nou duidelik maak hóé ons graag bemagtig wil wees,” het hy gesê. Hy waarsku dat die huidige stelsel te stadig reageer. “Teen die tyd wat die staat bloed trek en inenting begin, het die siekte reeds deur die kudde versprei.”
Privaat veeartse wil meer gesag hê om vinniger op te tree, bloedmonsters te neem en inentings toe te dien. Die bestaande kwarantynreëls veroorsaak volgens hom ook groot finansiële verliese.
“As ’n veearts ’n positiewe geval kry, word hy self onder kwarantyn geplaas – soms drie veeartse in ’n praktyk gelyktydig.” Dit vertraag noodreaksies verder.
Boere is dikwels huiwerig om hul vee in te ent omdat ingeënte diere gebrandmerk moet word en nie na gewone veilings geneem mag word nie. “Ons het eenvoudig nie genoeg goedgekeurde slagpale om die diere te hanteer nie,” waarsku hy.
Skuldverplasing help nie
Migley beklemtoon dat skuldverplasing nie die probleem oplos nie. “Van entstofvervaardiging tot dierebeweging moet daar werklike samewerking wees – daarsonder verloor ons beheer oor die siektes.”
Dewald Olivier, hoofbestuurder van die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), sê Suid-Afrika se bek-en-klouseerkrisis kan slegs opgelos word as die regering, bedryf en boere as een front saamwerk.
Dit is ’n wanindruk dat die staat alleen verantwoordelik is vir die beheer van die siekte. Internasionale riglyne van die Wêrelddieregesondheidsorganisasie (WOAH) bepaal duidelik dat samewerking tussen die regering en bedryf noodsaaklik is.
‘Die bedryf (in Brasilië) het saamgestaan en gesê: Hoe help ons die regering?’
Olivier sê dat openbare-private venootskappe (PPP’s) dikwels in Suid-Afrika ’n vloekwoord geword het, maar dat dit juis die sleutel tot ’n volhoubare oplossing is.
Hy verwys na Brasilië, waar die privaat sektor aktief betrokke was by ’n suksesvolle bek-en-klouseerprogram. “Die bedryf het saamgestaan en gesê: Hoe help ons die regering? Hoe dra ons by en hoe bestuur ons hierdie probleem saam?” Olivier sê Suid-Afrika moet dieselfde ingesteldheid aanneem.
Olivier verduidelik dat daar ’n kort- en langtermynplan moet wees. “In die kort termyn moet ons die krisis hanteer. In die lang termyn moet ons weer internasionale erkenning kry as ’n land wat bek-en-klouseer onder beheer het.” Volgens hom rus die huidige plan op drie kernpunte: entstof, bewegingsbeheer en toetsvermoë.
“Eerstens moet ons genoeg entstof hê – en die regte entstof. Op die oomblik is daar nie genoeg dosisse beskikbaar nie. Botswana produseer sowat 700 000 dosisse per siklus, maar dié voorraad moet met verskeie lande gedeel word. Ons het minstens ’n miljoen dosisse per maand nodig om Suid-Afrika se situasie te stabiliseer.”
Hy meen die plaaslike vervaardiging van entstof is die uiteindelike oplossing, maar dit vereis politieke wil en die ontsluiting van intellektuele eiendom by die Landbounavorsingsraad (LNR). Privaat maatskappye met fasiliteite kan ook oorweeg word.
Die tweede pilaar is beter bewegingsbeheer. “Nie alle beweging moet verbied word nie, maar daar moet stelselmatige naspeurbaarheid wees. Produsente moet kan bewys dat hul diere ingeënt is en dat hul kuddes veilig is.” Brandmerke en beter monitering kan plaaslike markte oophou sonder om uitvoere te bedreig.
Laastens beklemtoon Olivier die noodsaaklikheid om laboratoriumkapasiteit te versterk. “Ons toetsvermoë is tans tot twee maande agter. As jy bek-en-klouseer nie binne die eerste 48 uur vang nie, is die kans groot dat jy dit mis.”
Hy sê oplossings sal slegs deur samewerking gevind word. “Ons moet ophou vinger wys en begin saamwerk – die regering, veeartse en produsente – as ons wil keer dat hierdie siekte ons vleisbedryf kelder.”
Jaco Liebenberg van Beefmaster Voerkraal beklemtoon dat die kern van gesonde beesproduksie in biosekerheid lê, en dit begin by die boer self. “Die belangrikste is om jouself te beskerm. ’n Boer kan sy kudde beskerm deur biosekerheid streng toe te pas.” Hy sê die grootste risiko’s spruit uit dierebeweging, veral dié wat nie altyd beheer kan word nie.
Plaas ook isolasiestasie
By Beefmaster word streng voorskrifte gevolg. “Elke produsent moet ’n gesondheidsverklaring verskaf vir sy kudde.” ’n Isolasiestelsel van 28 dae is noodsaaklik. Selfs as ’n boer sy eie diere veiling toe neem en terugbring, het hulle die plaas se biosekerheid verlaat. Ons beskou die plaas as ’n isolasiestasie op sigself.”
Samewerking tussen die boer en veeartse is die sleutel. “Ons vra dat veeartse die diere op die plaas ondersoek voordat hulle na die isolasiestasie geskuif word. Dis ’n manier om ’n ‘hekkie oor te steek’ en te verseker dat siektes buite bly.”
By Beefmaster staan diere eers 28 dae in isolasie voordat hulle in die voerkraal opgeneem word, gevolg deur nóg ’n 28-dae-aanpassingstydperk binne ’n beheer- of ‘back-running’-stelsel.
‘Jy kan alles reg doen, maar dit help niks as jou buurman nie sy deel doen nie’
“Biosekerheid is net so sterk soos die swakste skakel in die ketting. Jy kan alles reg doen, maar dit help niks as jou buurman nie sy deel doen nie. Ons het samewerking van produsente nodig.”
Liebenberg sê Beefmaster kry toenemend positiewe reaksie uit die boerderygemeenskap. “Daar is boere wat ons bedank dat ons die proses ernstig opneem – dit beteken hulle behou ’n betroubare mark vir hul stoet- en speenkalwers.
“Biosekerheid is nie net ’n Beefmaster-kwessie nie. Dis ’n nasionale verantwoordelikheid – elke boer, elke veearts, elke skakel in die waardeketting het ’n rol om te speel.”
OFM Agri cvs